Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Akademia – die grootste Afrikanerbouprojek in die geskiedenis
Deur Marné Pienaar
Die grond is deurdrenk op die nuwe Akademia-kampusterrein in die ooste van Pretoria, waar dié privaat hoëronderwysinstelling se sooispitseremonie vandag (28 November 2025) plaasgevind het. Dié geleentheid lui die bou van die grootste Afrikanerbouprojek in – die begin van ʼn opwindende nuwe hoofstuk vir Akademia.

“Kanton het vandag die eerste sooi saam met die gemeenskap gespit vir die bou van die nuwe Akademia-kampus. Sowat 20 jaar gelede het Solidariteit-lede besluit om R10 per maand aan ʼn Boufonds te skenk. Só was hulle die eerste oprigters van Akademia, wat sedertdien gegroei het tot ʼn trotse hoëronderwysinstelling. Akademia het uiteindelik so sterk geword dat ʼn splinternuwe kampus ter waarde van R3,2 miljard ontwikkel moet word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Kanton, ʼn eiendomsontwikkelingsmaatskappy gebore uit die Solidariteit Beweging, neem verantwoordelikheid vir hierdie reusekampus vir Akademia. Solidariteit is ook ʼn trotse aandeelhouer in Kanton,” sê dr. Hermann.

“Die Akademia-ontwikkeling is as die Toekomsbouer-veldtog bekendgestel. Ons as gemeenskap is hierdie bouers. Ons het gesê ons staan agter Akademia en agter Kanton om uitvoer te gee aan hierdie grootse droom van ʼn Afrikaanse hoëronderwyskampus. Hier kan ons die ryk hoëronderwyserfenis van ons gemeenskap voortsit. Almal wat hulle met hierdie groot projek van ons vereenselwig, in Solidariteit en in ons groter gemeenskap, is toekomsbouers.”
Só sê Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton.
Studente, lede van die gemeenskap en Akademia-alumni het in wind en weer na die kampusterrein gestroom en die modder getrotseer Akademia is nie net ʼn onderwysinstelling nie – dit is ʼn tuiste.
Dr. Hermann meen dit is juis in hierdie reën wat mens die seën kan sien. “Hier is groot masjinerie en hierdie masjiene breek die klippe. Maar dis nie net klip wat gebreek word nie, dit is ʼn toekoms wat oopgebreek word. Hierdie word ʼn tuiste van studente. Elke Solidariteit-lid kan met trots sê: ‘Ek is mede-oprigter van Akademia.’”
Sedert Akademia sy deure in Januarie 2011 oopgemaak het, het dié onafhanklike hoëronderwysinstelling tot ʼn wêreldklasinstelling gegroei. In Januarie 2026 begin die bouwerk wat aan Fonties (dít is wat jy ʼn Akademia-student noem) ʼn unieke kampuservaring sal bied. Geen ander onderwysinstelling ter wêreld kan spog met ʼn Bosveld-atmosfeer slegs vyf kilometer van die stad af nie! Kyk gerus hierdie video om meer uit te vind oor Akademia en die soeke na die perfekte kampusterrein.

Hier word nie net ʼn kampus gebou nie, maar ʼn vrye toekoms vir ons kinders én hulle kinders. As jy nog nie die pragtige argitektuur van hierdie kampus gesien het nie, kyk gerus hierdie video om ʼn voorsmakie te kry van hoe dié kampus sal lyk wanneer die eerste studente in 2028 hier gaan begin studeer.
Die kern van die kampus is die kapel. Vanuit die kapel loop ʼn kanaal met water wat tussendeur die kampus en studente vloei. Dit is simbolies van ons Hemelse Vader wat ook ons Bron is en ons voed met die Lewende Water. Hierdie simboliek is doelbewus by die argitektuur ingebed en alhoewel die sooispitseremonie ʼn sopnat geleentheid was, is die genade van Bo in die DNS van Akademia ingebore. Hierdie is werklik ʼn plek waar studente hul geloof kan uitleef, hul identiteite kan vorm en hul roeping kan nastreef!
Dr. Hermann het sy dank uitgespreek teenoor elke Solidariteit-lid wat 20 jaar gelede hierdie visie gedeel het – om met klein bietjies te begin bou aan iets groters wat nou ʼn monument word wat ons gemeenskap inspireer.