Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 dae gelede
beeshoek-mynsluiting-booronderneming-red-65-werknemers-vanaflegging

Foto Krediet: OkayDeer

Beeshoek-mynsluiting: Booronderneming red 65 werknemers van aflegging

Solidariteit het in noue samewerking met die booronderneming, Booysens Bore, ʼn nuwe heenkome vir ʼn groot getal werknemers van hierdie onderneming gevind, vir wie werkloosheid – weens die sluiting van Assmang se Beeshoek-ysterertsmyn naby Postmasburg in die Noord-Kaap – andersins ʼn werklikheid sou word.

Beeshoek-myn moes weens die ekonomiese krisis wat hom, en die groter bedryf in die gesig staar, die besluit neem om sy bedrywighede te staak. Dit volg nadat sy enigste groot kliënt, ArcelorMittal SA, finansiële knyp ervaar het wat sy ooreenkoms met Beeshoek geknou het.

Hierdie ontwikkeling het gevolge vir 95 werknemers van Booysens Bore ingehou, vir wie alternatiewe werkgeleenthede nou gevind moes word, aangesien sy eie ooreenkoms met Assmang ook op 31 Oktober sou eindig.

Booysens Bore is reeds vir bykans vier dekades by Beeshoek werksaam. Tog het die onderneming se bestuur besluit om alle werknemers wat bereid was om buite Postmasburg te werk, elders tegemoet te kom.

Op hierdie manier is 65 werknemers, ná konsultasie met Solidariteit, weer deur Booysens Bore by sy takke in Kathu en Kuruman ontplooi, terwyl sommige werknemers in alternatiewe rolle geplaas is.

Volgens Adéle Rossouw, Solidariteit-organiseerder vir die mynbousektor, raak die aflegging dus net 23 van die 95 werknemers, terwyl 65 werknemers steeds in diens van die onderneming bly. Sewe het besluit om te bedank.

Onder die 23 werknemers het sommige besluit om nie buite hul onmiddellike omgewing te gaan werk nie. Rossouw beskryf hierdie ooreenkoms nietemin as ʼn reuse-oorwinning vir arbeidsverhoudinge.

Sy het groot lof vir Booysens Bore se merkwaardige gesindheid teenoor sy werknemers:

“Die werkgewer se ingesteldheid was om sy werknemers so veel as moontlik teen werkloosheid te beskerm. Met die sluiting van Beeshoek-myn staar die Postmasburg-gemeenskap immers ʼn bloedbad van werkverliese in die gesig.

“Maar Booysens Bore het hierdie werklikheid in ag geneem, en die fokus gedurende die afleggingsproses was deurgaans op hoe om poste ten alle koste te red, eerder as hoe daar van werknemers ontslae geraak kan word. Hierdie optrede van die werkgewer is prysenswaardig,” sê Rossouw.

Sy voeg by:

“Hierdie oorwinning vir arbeidsverhoudinge is die resultaat van ʼn krisis waarin die werkgewer en Solidariteit as vakbond nou saamgewerk het om die beste moontlike oplossing vir die werknemers te vind. Die boodskap hierin lê dat vakbonde en werkgewers nie altyd mekaar as vyande hoef te sien nie – daar is soveel krag in samewerking.”

Solidariteit kon dus hierdie uitdagende proses, onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), in goeie trou saam met die werkgewer hanteer.

Hierdie uitkoms kan as ʼn ligpunt beskou word te midde van die moeilike omstandighede wat die sluiting van die myn vir honderde werkers en hul gesinne veroorsaak. Beeshoek-myn sal sy werksaamhede teen die einde van November 2025 beëindig.

Wanneer die myn se deure sluit, sal die werk van ongeveer 688 werknemers geraak word, en die Postmasburg-gemeenskap word onherroeplik verander.

Sien foto’s hier en hier vir mediagebruik.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel