Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die wetenskap van welstand vir maatskaplike werkers
Deur Kyla-Ann du Toit
Vir maatskaplike werkers is selfsorg dikwels ʼn woord wat skuldgevoelens laat opvlam. In ʼn beroep waar omgee die kern van jou identiteit is, voel dit amper verkeerd om ʼn oomblik vir jouself te neem.
Volgens Renata Haley, bedryfsmaatskaplikewerker in die Suid-Afrikaanse Weermag, is dié siening egter nie net gevaarlik nie, maar onakkuraat. Selfsorg is nie selfsug nie; dit is strategiese oorlewing.
Die “selfsorg is selfsugtig”-mite
“Baie maatskaplike werkers het ʼn sterk, intrinsieke motivering om ander te help. Hulle identiteit is verweef met die idee om ‘die sterk een’ te wees,” sê Haley. “In hierdie raamwerk word tyd wat aan die self bestee word, as tyd weggeneem van die wat ly en dus as selfsugtig beskou. Dit is ʼn irrasionele, maar kragtige oortuiging.”
Volgens haar versterk organisasies soms dié wanpersepsie. “Wanneer iemand wat grense stel as ‘nie ʼn span-speler’ gesien word nie, of wanneer ʼn persoon wat oorwerk is se toewyding gevier word, word die boodskap gekommunikeer dat selfsorg teen die kultuur is.”
Haley gebruik die vliegtuig se suurstofmasker as metafoor: “Jy sit eers jou eie masker op voordat jy ander help. As jy bewusteloos raak, kan jy niemand help nie. Selfsorg is dus nie selfsug nie; dit is strategiese oorlewing.”
Bewysgebaseerde selfsorgstrategieë
Navorsing uit positiewe sielkunde en neurowetenskap wys dat die kragtigste selfsorggewoontes dié is wat ons brein letterlik “herbedraad” vir groter veerkragtigheid. Haley verwys na vier kernpraktyke:
- • Bewustheid: Enige handeling wat jou anker in die huidige oomblik, verminder ooraktiewe denke en kalmeer die senuweestelsel.
- • Beweging: Fisiese aktiwiteit herstel jou brein se chemiese balans en verlig spanning.
- • Verbinding: Egte, betekenisvolle gesprekke aktiveer die “kalmeer-en-verbind”-stelsel wat stres teenwerk.
- • Dankbaarheid: Deur doelbewus aandag te gee aan wat goed gaan, word die brein herprogrammeer om positiewe stimuli raak te sien.
Die PERMA-V-model
Die PERMA-V-model dien as ʼn praktiese raamwerk om welstand te bou. Haley verduidelik hoe maatskaplike werkers hierdie model as hulpmiddel daagliks kan toepas:
- • P – Positiewe emosies: Soek daagliks iets wat vreugde bring – al is dit net ʼn liedjie op pad huis toe of om ʼn grappige of “meme” vir ʼn kollega te stuur.
- • E – Betrokkenheid: Identifiseer ʼn taak wat jy kan afhandel en geniet die gevoel van vloei en beheer.
- • R – Verhoudings (‘relationships’): Vra vir ʼn kollega: “Hoe gaan dit regtig met jou?” en luister aktief vir twee minute. Egte verbinding is ʼn tweerigtingstraat wat albei partye voed.
- • M – Betekenis (‘meaning’): Herinner jouself daaraan hoekom jou werk saak maak.
- • A – Prestasie (‘accomplishment’): Vier jou klein oorwinnings met ʼn spoglys (ʼn “brag list”) aan die einde van die dag.
- • V – Lewenskrag (‘vitality’): Eet iets voedsaam, strek gereeld en drink water – klein versorgingsdade vir die liggaam het ʼn groot impak op die verstand.
Mikro-oomblikke van verbinding
“Een van die kragtigste, maar mees oorgesiene vorme van selfsorg lê in mikro-oomblikke van verbinding,” sê Haley. Dit hoef nie groot gebare te wees nie – ʼn glimlag vir die sekuriteitswag of ʼn opregte “dankie” aan ʼn kollega bou ʼn reservoir van positiewe ervarings. “Elkeen is soos ʼn emmer water op die vuur van kroniese stres. Hulle bou ʼn reservoir van positiewe emosionele ervarings wat jy kan tap wanneer jy met uitdagende kliënte of situasies te doen kry.”
Haley verduidelik dat hierdie mini-interaksies oksitosien (die “verbindingshormoon”) vrystel en kortisolvlakke (die streshormoon) verlaag. “Hulle stuur ʼn boodskap na jou brein en liggaam en sê jy is veilig, jy is verbind en jy is nie alleen in hierdie stryd nie.”
Geniet teenoor verbruik
Ons brein hou negatiewe ervarings vas, maar laat positiewe ervarings maklik glip. Daarom meen Haley moet ons leer om te “geniet” eerder as net te “verbruik”.
Sy gebruik die voorbeeld van wanneer jy sjokolade eet terwyl jy deur e-posse blaai: Jy verbruik dit sonder om die genot daarvan regtig te ervaar. As jy egter die tyd neem om die geur, die tekstuur en die oomblik te waardeer, geniet jy dit bewustelik – en dit herstel jou brein.
“Selfsorg gaan nie oor die kwantiteit van ontspanning nie, maar oor die kwaliteit daarvan. ʼn Vyfminuut-pouse waar jy bewustelik die son op jou gesig voel, die smaak van jou koffie proe of ʼn mooi blom bewonder, kan meer herstel meebring as ʼn uur van afleiding waar jou gedagtes steeds op werk fokus.”
Realistiese selfsorg in die Suid-Afrikaanse konteks
“As jy nie tyd het vir selfsorg nie, is dit presies wanneer jy dit die meeste nodig het,” sê Haley. Sy stel ʼn eenvoudige “drie mikro-pouse-plan” voor. Kies drie van die volgende aktiwiteite en verbind dit aan iets wat jy reeds daagliks doen:
1. Oggendkoffie: Drink die eerste drie slukke in stilte.
2. Voordat jy jou motor parkeer: Sit vir 30 sekondes stil. Asem drie keer lekker diep in.
3. Ná elke kliëntbesoek: Staan op, rek jou arms bo jou kop uit en draai jou enkels. Dit breek die fisieke spanning.
4. Badkamer-pouse: Was jou hande bewustelik. Voel die temperatuur van die water. Ruik die seep.
5. Op pad huis toe: Kies een ding waarvoor jy dankbaar is en dink daaraan vir die eerste twee minute van die rit.
Hierdie klein gewoontes verg net sekondes, maar breek die patroon van chroniese stres.
Selfsorg as professionele vaardigheid
Volgens Haley moet selfsorg as ʼn vaardigheid beskou word en nie as ʼn persoonlikheidseienskap nie. “Ons moet dit formaliseer as deel van professionele ontwikkeling. Dit hoort by toesig en spanvergaderings. Deur dit professioneel te maak, verwyder ons die stigma.”
Haley meen die grootste hulpbron in maatskaplike werk is nie geld of geboue nie, maar eerder die gesonde, veerkragtige en toegewyde mens wat die werk doen.
Wanneer maatskaplike werkers hul eie welstand beskerm, beskerm hulle indirek die mense en gemeenskappe wat hulle dien. Selfsorg is dus nie net persoonlik nie – dit is ʼn professionele verantwoordelikheid. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk herinner jou daaraan dat jy nie alleen in hierdie beroep staan nie. Dié beroepsnetwerk bied vir jou ʼn gemeenskap waar jy die nodige ondersteuning, opleiding en gemeenskap vind – ʼn veilige beroepstuiste waar jy kan groei, leer en werklik jou volle potensiaal kan bereik.