loading
avatar
Artikels
1 maand gelede
drie-leierskapsvaardighede-wat-jy-nou-moet-ontwikkel

Foto Krediet: OkayDeer

Drie leierskapsvaardighede wat jy nou moet ontwikkel

Deur Essie Bester

Die vaardighede wat jou hoogs suksesvol kan maak, is nie noodwendig aangebore nie. Dis vaardighede wat waarneembaar, meetbaar en leerbaar is en jy kan hulle oefen en verbeter. Hierdie oortuiging word aangevoer deur leierskapsnavorsers, Simon Sinek en Brené Brown, in ʼn artikel op die Amerikaanse sakenuuskanaal, CNBC.

Volgens dié twee kenners is hoogs suksesvolle mense geneig om drie vaardighede te deel naamlik openbare redevoering, die stel van gesonde grense en die vermoë om kwesbaarheid te toon. Indien dit nie eienskappe is wat natuurlik na jou kom nie, beteken dit dat jy jouself uit jou gemaksone moet dwing en jouself moet oopstel vir eksterne veroordeling.

1. Openbare redevoering

Openbare redevoering kan help om jou selfvertroue en leierskapsvaardighede te bou. Dis egter een van die mees angswekkende werkplekvaardighede. In ʼn onlangse Gallup-opname het 45% van Amerikaners die vrees om voor ʼn klomp mense te praat (glossofobie) as hul grootste vrees aangedui. Die onderliggende vrees is glo oordeel of negatiewe evaluering deur ander.

Sinek se raad is dat jy moet probeer onthou dat die gehoor (ook net weerlose mense) kom om te luister en nie om te kritiseer nie. Hy gee vier wenke:

  • • Verander senuweeagtigheid in opwinding: Studies toon dat die fisiologiese reaksies op beide emosies byna identies is. Dit gaan dus alles oor hoe jy dit waarneem. Aanvaar die idee dat jy opgewonde eerder as senuweeagtig is en sê dit vir jouself hardop voor ʼn spieël. Só kanaliseer jy daardie energie op ʼn positiewe manier en betrek jy jou gehoor van die begin af. Hierdie aksie kan help om jou ingesteldheid te verander en jou selfvertroue verbeter.
  • • Begin met waarom: Begin deur jou doel of oortuiging te verwoord en kry die atmosfeer só dat jy ʼn outentieke en emosioneel boeiende aanbieding lewer wat by jou gehoor aanklank vind. Outentieke sprekers word as meer betroubaar en oortuigend beskou.
  • • Kies ʼn oortuigende en boeiende eerste sin: Maak seker jou openingsin is iets wat jou gehoor dadelik intrek en hulle gretig maak om meer te leer. Oorweeg vooraf watter aspek van jou onderwerp die meeste by jou gehoor aanklank sal vind.
  • • Vermy algemene aanbiedingsfoute: Fokus op duidelike, toeganklike taal. In stede daarvan om jou materiaal te memoriseer – wat jou robotagtig en afsydig kan laat klink – moet jy eerder probeer om die sleutelkonsepte wat jy aanbied goed te verstaan.

Sinek, wat normaalweg vinnig praat en baie handbewegings maak, verduidelik dat daar ʼn fisiologiese verband is tussen ons hande en hoe vinnig ons praat. “In die geselskap van persone wat stadiger reageer en daarvan hou om te dink voordat hulle praat, hou ek my hande stil deur my vingers inmekaar te vleg.” Sinek sê hierdie wenk help hom om te voel hy word gehoor en verstaan deur mense wat anders as hy dink.

2. Stel gesonde grense

Empatie help leiers om die behoeftes, bekommernisse en motiverings van hul spanlede te verstaan. Dit laat werknemers gewaardeerd en gemotiveerd voel. Jy kan egter nie van jouself gee as jy leeggetap is nie, sê Brown. Om uitbranding te voorkom is dit nodig om grense te stel.

Mense wat nie met duidelike grense leef nie:

  • • neem verantwoordelikheid vir ander mense óf hou ander verantwoordelik vir hul lewe;
  • • is voortdurend kwaad en gefrustreerd;
  • • ontwikkel ʼn wrok teenoor mense vir wie hulle voorheen omgegee het;
  • • laat toe dat ander mense oor hulle loop; en
  • • die enigste manier hoe hulle kry wat hulle wil hê, is om aggressief te raak en ander te manipuleer.

Verhoed dat jy jouself aan die bogenoemde skuldig maak deur:

  • • regverdige en duidelike riglyne vir jouself te stel en dit duidelik aan ander deur te gee;
  • • die logika van die grenslyn te verduidelik;
  • • onmiddellik op te tree indien die grens oorskry word – moenie wag dat die woede opbou nie;
  • • te besef dat om grense te stel nooit ʼn persoonlike aanval is nie – dit gaan oor die groter prentjie waarvan ander nie noodwendig bewus is nie; en
  • • deur ʼn waardige en suksesvolle mentor te raadpleeg voordat jy belangrike grense stel.

Gesonde grense is nie net goed en veilig vir jouself nie, maar ook vir almal rondom jou. In Solidariteit se kursus oor Grense in die werkplek kan jy leer wat gesonde grense behels, hoe om jou eie grense te stel en hoe om ander mense se grense te respekteer.

3. Kwesbaarheid

Daar lê krag in kwesbaarheid, maar om kwesbaar te wees pas nie in by ons definisie van ʼn sterk onafhanklike leier nie. Om kwesbaar te wees is egter iets wat moed verg. Dit beteken om jou ware self te wees in elke situasie.

Kwesbaarheid dwing jou om op te daag en jouself oop te stel vir kritiek. Kwesbaarheid beteken om deursigtig te wees oor omstandighede wat jou prestasie of moraal kan belemmer. Miskien weet jy nie hoe om ʼn nuwe stuk sagteware te gebruik nie. Wees reguit hieroor.

Bemagtig jouself en staan uit bo jou mededingers deur te sorg dat jy aan die voorpunt van jou loopbaanontwikkeling bly. Lees hier meer oor jou eenstopberoepstuiste vir voortgesette leer. Nog nie ʼn lid van Solidariteit nie? Klik hier en sluit binne een minuut aan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel