
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
FlySafair begin môre sy vlieëniers uitsluit
FlySafair se vlugte kan vir twee weke lank ontwrig word omdat die maatskappy van môre af sy vlieëniers gaan uitsluit. Dit volg nadat bykans 90% van die vlieëniers ten gunste van ’n staking gestem het.
Solidariteit het FlySafair kennis gegee van ’n eendagstaking, maar FlySafair het teruggeslaan met ’n kennisgewing dat hulle die vlieëniers vir sewe dae gaan uitsluit, wat vir nóg sewe dae kan duur. Dit het Solidariteit gedwing om sy stakingskennisgewing ook na 14 dae uit te brei. Intussen het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aangebied om weer te bemiddel. Solidariteit het daartoe ingestem, maar FlySafair weier nog.
Volgens Solidariteit is FlySafair se uitsluiting van vlieëniers roekeloos teenoor die publiek. Solidariteit se eendagkennisgewing was om die maatskappy na die onderhandelingstafel toe terug te dwing, maar FlySafair het die geskil nou geëskaleer, wat dit weke lank kan laat duur.
As 90% van ʼn maatskappy se sleutelpersoneel wil staak, is daar iets groot fout. Solidariteit doen ’n beroep op FlySafair om na die onderhandelingstafel terug te keer. Die vlieëniers vra vir regstelling van hulle salarisse ná die sny van salarisse tydens Covid, asook dat diensvoorwaardes nie verander word nie en dat daar voldoende voorsiening vir rustyd en gesinstyd gemaak word.