
Foto Krediet: Voortrekkermonument: FC Pelser
Gekopieër
Geloftedag: wat herdenk jý?
Deur Marné Pienaar
As al jou vriende oor hulle Geloftedagplanne praat en jy weet nie eers waaroor Geloftedag gaan nie, is hierdie artikel vir jou!
Suid-Afrikaners geniet elke jaar op 16 Desember ʼn lekker vakansiedag wat jy op skool sou leer ken het as Versoeningsdag. Dit is ook op hierdie dag wat derduisende Afrikaners na die Voortrekkermonument en Geloftefeesterreine reg oor die land (en wêreld) optrek om Geloftedag te herdenk.
ʼn Kort oorsig oor die gebeure
Jy het seker al gehoor van die Groot Trek. Die Slag van Bloedrivier is eintlik die laaste hoofstuk in die verhaal van die Groot Trek, wat Suid-Afrika se toekoms op talle wyses nie net verander het nie, maar ook bepaal het.
1836
Die Groot Trek begin. Daar is hoofsaaklik vyf groepe – onder leiding van Retief, Maritz, Potgieter, Trichardt en Uys wat die Kaapkolonie verlaat het en die binneland in getrek het. Lees hier meer oor die redes vir die Groot Trek. Kortom kom die redes daarop neer dat hulle onder verdrukking van die Britse owerheid in die Kaapkolonie was en ʼn drang na vryheid gehad het. Daar was ʼn soeke na hulle eie land waar hulle self besluite kon neem.
1836 – 1837
Die Voortrekkers trek in verskeie rigtings noordwaarts. Daar is wrywing en selfs veldslae met binnelandse volke, soos die Matabeles en die Zoeloes.
1838
Die Voortrekkerleier, Piet Retief, gaan onderhandel met die koning van die Zoeloes, Dingaan om grond by hom te koop. ʼn Ooreenkoms is aangegaan, maar Dingaan het Retief en sy manskappe in ʼn strik gelei en hulle is op 6 Februarie brutaal vermoor.
In die nag van 16 Februarie val ʼn Zoeloemag die Voortrekkerlaer by Bloukrans aan. In een nag is 185 kinders, 56 vroue, 41 mans en oor die 200 knegte vermoor.
Dit kon nie ongestraf bly nie.
ʼn Kommando van die Voortrekkers het teen die Zoeloes opgetrek en in geloof ʼn gelofte aan God gemaak dat as God die oorwinning in die veldslag aan die Voortrekkers sou gee, hulle ʼn kerk sal bou en die dag vir altyd as ʼn sabbat (soos ʼn Sondag) sal herdenk. Só het God Christenskap in die binneland van Afrika gevestig en die evangelie kon so versprei.
16 000 Zoeloes, teenoor ʼn handjievol Voortrekkers kom toe op 16 Desember 1838 teen mekaar te staan by die Ncomerivier (wat ná die veldslag as Bloedrivier bekend sou staan) en God laat toe wonderwerke daar gebeur nadat die Voortrekkers ʼn gelofte afgelê het dat as God die oorwinning aan hulle sou skenk, hulle ʼn kerk sal bou en die dag as ʼn sabbat sal herdenk. Die oorwinning wat behaal is, word tot vandag toe as ʼn wonderwerk beskou en kom God toe.
Om ’n lang storie kort te maak…
Dingaan was ʼn tiran, selfs teenoor sy eie mense.
Ná afloop van die Slag van Bloedrivier kon die Voortrekkers en die Zoeloes mekaar in vrede ontmoet en kon die Zoeloes ook ʼn nuwe era betree.
Die Voortrekkers het die Geloftekerk in Pietermaritzburg gebou, wat vandag nog staan en as ʼn simbool dien van die oorwinning wat God op dié dag in 1838 bewerkstellig het.
Ons voorouers het die Gelofte in geloof afgelê en ons as die nageslag is steeds tot daardie Gelofte verbind.
In 2023 het 30 000 mense na die Voortrekkermonument gestroom om Geloftedag daar te herdenk. Die gelofte is op ses kontinente herdenk. Vanjaar herdenk ons weer die Gelofte op dié dag want dit is ons verantwoordelikheid om die Gelofte na te kom en God te eer vir die oorwinning op 16 Desember 1838.
So wat herdenk jý? ʼn Pasella-vakansiedag, of eer jy die Gelofte waaraan jy deur jou voorouers verbind is?