loading
avatar
Artikels
5 dae gelede
harde-werklikheid-trump-se-sa-hoort-nie-in-g20-nie

Foto Krediet: Solidariteit

Harde werklikheid? Trump sê SA hoort nie in G20 nie

Pres. Donald Trump van die VSA reis nie vanjaar soos ander staatshoofde na Suid-Afrika om die G20-beraad in Johannesburg by te woon nie.

Sy kritiek teen die Suid-Afrikaanse regering is welbekend. Nou het hy verder gegaan deur te sê Suid-Afrika behoort nie eens ’n G20-lidland te wees nie.

Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, ontleed hierdie uitlatings en vra dan ook die vraag: Hoort Suid-Afrika steeds in die G20?


Eerstens is dit belangrik om te sê dat elke Suid-Afrikaner veronderstel is om te begryp dat Suid-Afrika se lidmaatskap van die G20 goed en voordelig vir ons almal is. Sou ons in die toekoms nie meer deel van die G20 wees nie, sal dit ’n verdere terugslag vir die land inhou. Die G20 bied enorme netwerkgeleenthede vir ons land, maar ook geloofwaardigheid en statuur op die internasionale verhoog.

Suid-Afrika was vanuit die staanspoor deel van die G20 toe dit in 1999, ná die Asiatiese finansiële krisis, as ’n meer globale, inklusiewe forum as byvoorbeeld die G7 opgerig is. Die fokus was, en is tot ’n groot mate steeds, op globale ekonomiese kwessies.

Hoewel Suid-Afrika nie een van die 20 grootste ekonomieë ter wêreld was of is nie, is die land in 1999 ingesluit in ’n poging om Afrika deel van die G20 te maak, en ook omdat Suid-Afrika die grootste en bes ontwikkelde ekonomie in Afrika was. 

Terwyl Suid-Afrika globaal wegkwyn en binne die volgende vyf jaar nie meer onder die wêreld se top 40 ekonomieë gaan tel nie, en reeds nie meer die grootste ekonomie in Afrika is nie, begin daar geldige vrae oor ons G20-lidmaatskap ontstaan. Dit is presies waarom pres. Donald Trump gesê het dat SA nie meer ’n G20-lidland moet wees nie.

Ander Afrikalande kan en gaan op een of ander tydstip daarop aandring om ook ingesluit te word, of om Suid-Afrika permanent of op ’n roterende basis te vervang.

Vanjaar se G20-beraad in Johannesburg skep die persepsie dat Suid-Afrika se globale aansien verhoog. Die aanbied van die beraad hou egter geensins daarmee verband nie. In werklikheid is Suid-Afrika se globale, veral ekonomiese, aansien voortdurend aan die wegkwyn. Dit hou reuserisiko’s in.

Die oplossings is bekend en eenvoudig, maar vereis politieke wilskrag en ’n fokus op die toekoms eerder as die verlede. Dit sluit die volgende in:

1. deregulering van die ekonomie;

2. privatisering van staatsentiteite;

3. verkleining van die staatsdiens;

4. die uitfasering van verlammende rassewette;

5. hersiening van die omstrede onteieningswet;

6. ʼn drastiese verbetering in infrastruktuur;

7. ’n ernstige en aktiewe aanslag op korrupsie;

8. beter buitelandse verhoudinge insluitend beter diplomatieke dienste wat ook die onderhandeling van handelsooreenkomste behels;

9. ’n reuse-aanslag teen gewelds- en ander ernstige misdade soos wat onder andere in ’n land soos El Salvador geslaag het; en

10. die regruk van die onderwys sodat beter geskoolde arbeid vir ’n groeiende ekonomie gelewer kan word.

Indien hierdie dinge nie gebeur nie, sal dit regtig nie in die toekoms sin maak dat ’n kwynende Suid-Afrika uit 52 Afrikalande die enkele Afrika-setel by die G20 beset nie. Dit is die harde werklikheid.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel