loading
avatar
Artikels
5 dae gelede
henrietta-van-biljon-n-nederige-kampioen-met-n-groot-hart-kantoorkampioen-2025

Foto Krediet: Solidariteit

Henriëtta van Biljon: ʼn Nederige kampioen met ʼn groot hart | Kantoorkampioen 2025

Deur Kyla-Ann du Toit

Tussen al die glimlagte, trane van blydskap en stories van inspirasie tydens vanjaar se Kantoorkampioen-kompetisie, het een vrou ʼn blywende indruk gelaat. Henriëtta van Biljon, administrateur in studente-administrasie by Akademia, is aangewys as Solidariteit se Kantoorkampioen vir 2025 – ʼn toekenning wat nie net haar harde werk beloon nie, maar ook haar kalm gees, nederigheid en opregte geloof in mense vier.

Henriëtta is op 23 Oktober by haar werkplek verras en as Kantoorkampioen vir 2025 aangewys.

ʼn Lewe van diens en nederigheid

Henriëtta se loopbaanpad het haar geneem van haar beginjare in Kimberley, deur haar tyd by Krygkor en Thales, tot by Akademia. In elke fase het sy ʼn lewe gebou wat gegrond is op diens, groei en integriteit. Sy glo dat eerlikheid, respek en nederigheid die hoekstene van ʼn mooi loopbaan – én mooi menswees – is.

“Ek sê dankie vir die Here, want Hy is in beheer van alles en Hy het my hier geplaas om vir studente ʼn verskil te maak,” vertel sy. “Hierdie toekenning beteken vir my só baie. Dit wys dat ek regtig iets vir studente beteken. En ek het nog altyd gesê, as ek net vir een student ʼn verskil kan maak, dan voel ek dat ek my werk reg gedoen het.”

Henriëtta saam met haar kollegas.

Vir Henriëtta gaan administrasie oor veel meer as papierwerk; dit is ʼn roeping om orde, hoop en menslikheid in jong mense se lewens te bring. “Die woord ‘dankie’ beteken vir my die wêreld,” sê sy.

ʼn Lig vir ander

By Akademia is Henriëtta bekend vir haar stylvolle professionaliteit en kalm teenwoordigheid. Kollegas beskryf haar as ʼn anker – iemand wat altyd vrede bring, selfs te midde van chaos.

Volgens Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, verteenwoordig Henriëtta alles wat ʼn ware kantoorkampioen moet wees – in hart, siel en gees.

“Henriëtta is ʼn buitengewone vrou – iemand wat kalmte met haar woorde bring en warmte deur haar optrede uitstraal. Wanneer jy haar ontmoet, voel dit asof haar liefde jou saggies omvou. Sy sit graag saam met ander en gesels met ʼn koppie tee in die hand, gee wyse raad oor die lewe, luister met ʼn oop hart en inspireer almal rondom haar sonder moeite. Hierdie toekenning is ʼn welverdiende huldeblyk aan wie sy is.”

Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, saam met die nuwe Kantoorkampioen.

Henriëtta glo dat elke persoon ʼn unieke rol het om te speel. “Ons almal, elke toptien-finalis, is uniek. God het ons elkeen uniek gemaak, en dit is wat vir my so spesiaal is. Of jy nou voor in ontvangs sit of agter in die kantoor werk – elkeen is deel van die groter legkaart.”

ʼn Hart vir studente

Wat haar werklik laat uitstaan, is haar onwrikbare liefde vir studente. Sy sien in elke jong mens ʼn storie, ʼn droom en die potensiaal om iets besonders te word. “As ek ʼn verskil in een student se lewe kan maak, het ek die wêreld versit,” sê sy met ʼn glimlag.

Henriëtta se glimlag was aansteeklik. Sy het glad nie voorspel dat sy as vanjaar se wenner gekroon gaan word nie.

Vir haar span is sy ʼn mentor en ʼn moederfiguur – iemand wat luister, aanmoedig en die kalmte bring wanneer dinge rof raak. Haar geloof en dankbaarheid straal deur in elke interaksie, en haar kollegas beskryf haar as iemand wat altyd bereid is om empatie te toon, altyd dankie sê en altyd vir ander intree.

ʼn Welverdiende huldeblyk

Toe sy as wenner aangekondig is, het die emosie op haar gesig alles gesê – verrassing, dankbaarheid en diepe vreugde. “Om eerlik te wees, ek het nie regtig woorde nie – ek is verstom,” vertel sy. “Die kompetisie was vir my bitter spesiaal. Dit is net manjifiek!”

Henriëtta se storie herinner ons daaraan dat ware uitnemendheid dikwels stilweg en soms agter die skerms gebeur – in klein gebare, sagte en opregte woorde en die konstante bereidheid om ander te dien. Sy is die toonbeeld van karakter, styl en geloof – ʼn vrou wat nie net haar werk met toewyding doen nie, maar ook die harte van ander aanraak.

Henriëtta het ‘n geskenkpakkie met ‘n bos blomme en ‘n bottel sjampanje, ‘n Kokoriba-vakansie en ‘n R5 000-kontantprys gewen. Sy het ook ‘n sertifikaat gekry sowel as die Kantoorkampioen-wisseltrofee.

Henriëtta se lig skyn helder en herinner ons daaraan dat die grootste kampioene dikwels die stilste in die vertrek is. Haar passie vir haar werk, haar kollegas en haar medemens spreek boekdele, en Solidariteit is trots daarop dat sý die Kantoorkampioen vir 2025 is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel