loading
avatar
Artikels
17 uur gelede
media24-se-daling-in-inkomste-laat-nuwe-alarms-oor-werknemers-se-toekoms-lui

Foto Krediet: Pexels

Media24 se daling in inkomste laat nuwe alarms oor werknemers se toekoms lui

Deur Robin-Lee Maré

Media24 se jongste finansiële prestasie, wat ’n skerp daling in inkomste oor die afgelope jaar toon, bied ernstige rede tot kommer oor die toekoms van werknemers by dié mediamaatskappy.

Hierdie ontwikkeling kom te midde van ’n geskiedenis van afleggings by die maatskappy, wat veral in onlangse tye  spanning en onsekerheid by werknemers geskep het.

Volgens berigte in Daily Investor wys Naspers se jongste finansiële resultate dat Media24 se inkomste, wat in Amerikaanse dollar gemeet word – die geldeenheid waarin hul finansiële state opgestel word, met ’n beduidende 44% jaar-op-jaar gedaal het. In plaaslike geldeenheidsterme toon die syfers ’n 38% daling oor die afgelope ses maande vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

Johan Roos, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Kommunikasienetwerk, sê Solidariteit hou die situasie noukeurig dop. “Solidariteit was voorheen betrokke by Media24-afleggingsprosesse en sal die huidige situasie noukeurig monitor. Ons sal nie huiwer om op te tree indien werksekerheid of regte van ons lede bedreig word nie,” sê hy.

Roos beklemtoon dit is onaanvaarbaar dat werknemers die gevolge van bestuursfoute moet dra. “Ons sal nie toelaat dat werknemers, wat die besigheid dra, die prys betaal vir strategiese foute of swak sakebesluite nie,” sê Roos.

Solidariteit sal op volle nakoming van die Wet aandring

Volgens Roos sal Solidariteit, indien Media24 ’n nuwe afleggingsproses oorweeg of in werking stel, soos vereis deur arbeidswetgewing, aandring op deursigtigheid, behoorlike prosedures en betekenisvolle konsultasie.

“Geen werknemer mag in die duister gelaat word oor moontlike strukturele veranderinge of risiko’s wat hul posisies raak nie,” sê hy.

Roos moedig werknemers aan om vroegtydig met Solidariteit in verbinding te tree indien daar enigiets is wat onsekerheid skep of op potensiële verandering dui.

’n Honger vir Afrikaanse gedrukte media

Te midde van Media24 se finansiële uitdagings verskyn daar ook berigte oor ’n nuwe Afrikaanse gedrukte koerant wat binnekort die mark gaan betree.

Volgens Roos lê hier ’n belangrike les vir Media24 self.

“Die werklike kwessie is dat daar ’n honger is vir gedrukte Afrikaanse media, en dit is iets wat Media24 myns insiens nie in ag geneem het met die sluiting van hulle koerante nie.
“Die gaping in die mark is nou baie groter en dit het hulle heel moontlik skade berokken, terwyl ander publikasies nou gaan oopmaak wat wél ’n geweldige sukses in hierdie mark kan wees,” sê hy.

Roos verduidelik verder dat gedrukte media steeds ’n unieke rol speel wat nie deur aanlyn platforms vervang kan word nie. “Gedrukte media het ’n ander tipe leser as wat jy aanlyn gaan kry. Die advertensies wat jy in gedrukte media plaas, is meer werd, vir die koerant én vir die lesers. Dit het oor die algemeen ’n sterker bemarkingsimpak as moderne strukture wat van “clickbait” afhanklik is,” sê hy.

Solidariteit bly paraat

Roos bevestig dat Solidariteit hul lede se belange bo alles sal beskerm, ongeag druk uit die mark of strategiese foute deur groot mediagroepe.

“In hierdie tyd van ekonomiese onsekerheid is dit vir die vakbond uiters belangrik dat werknemers regverdig en met respek behandel word,” sluit hy af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel