loading
avatar
Mediaverklarings
4 dae gelede
onderwysers-in-die-spervuur-weens-besnoeiings-in-gauteng

Foto Krediet: OkayDeer

Onderwysers in die spervuur weens besnoeiings in Gauteng

Solidariteit waarsku teen die ernstige gevolge wat die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se besluit om skoolsubsidies en onderwysposte by kwintiel 5-skole drasties te verminder, vir onderwysers inhou.

Volgens verteenwoordigers van die Solidariteit Onderwysernetwerk sal hierdie skuiwe, wat daarop gemik is om finansiële tekorte aan te spreek, daartoe lei dat onderwysers beslis die swaarste gevolge daarvan dra.

Die 66%-besnoeiing in subsidies sal volgens Johan Botha, hoof van die Solidariteit Onderwysernetwerk, veroorsaak dat skole sukkel om onderwysposte te behou, klasgroottes te bestuur en noodsaaklike ondersteuningstrukture te verseker. 

“Baie skole gaan noodgedwonge onderwysposte en ander personeel moet afskaf, wat ʼn bykomende las op die onderwysers wat agterbly sal plaas. Die groter klasse sal werkslading en spanning verhoog by onderwysers wat alreeds oorwerk is. Dit opsigself kan die gehalte van onderrig raak en illustreer hoe dié regeringsbesluite ʼn uiteindelike uitwerking op ons kinders gaan hê, wie se akademiese prestasie daaronder kan ly,” het Botha gesê. 

In ʼn brief aan die GDO het die Solidariteit Onderwysernetwerk versoek dat die 2026-befondsingsbesnoeiings herroep sal word en dat dit dringend, in samewerking met die skole, hersien word.

Een van die kernpunte van kritiek teen die besnoeiings is dat die aankondigings daaroor eers ná die veronderstelde sperdatum gemaak is, toe skole se begrotings vir die 2026-skooljaar reeds klaar was.

“Onderwysers is nie net statistieke en lynitems op ʼn begroting nie. Hulle vorm die hart van openbare onderrig, en elke besluit wat sonder hulle en ons skoolgemeenskappe se insae geneem word, minag die onderwysberoep en die leeruitkomste vir duisende Gautengse leerders,” het Botha gesê. 

Lees die volledige skrywe van Solidariteit se Onderwysernetwerk aan die GDO hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel