loading
avatar
Artikels
14 uur gelede
regeringsversuim-dryf-sa-se-afleggingskrisis

Foto Krediet: Argief

Solidariteit se dispuut met die regering: Regeringsversuim dryf Suid-Afrika se afleggingskrisis

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit het op 16 September 2025 ’n formele dispuut met die regering by Nedlac verklaar weens die groeiende afleggingskrisis wat die land tref – ’n krisis waarvoor die regering self grootliks verantwoordelik is.

Die dispuut, wat in terme van artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge ingestel is, hou verband met die omvangryke werksverliese in die ekonomie, die beleidsfoute wat dit veroorsaak het en die regering se voortdurende versuim om die krisis daadwerklik aan te spreek.

Teen 25 November 2025 het die mediasieproses tussen Solidariteit en die regering volledig misluk, wat beteken dat Solidariteit nou amptelik in dispuut met die regering is. Nedlac sal binne weke ’n sertifikaat uitreik wat dit bevestig.

’n Afleggingsgolf wat die regering self veroorsaak het

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het werkgewers tydens die Nedlac-proses die omvang van die krisis bevestig: Tot 800 000 direkte en indirekte poste kan uiteindelik sneuwel indien die regering nie dringend hul verpligtinge en beloftes nakom nie.

“Hierdie syfer weerspieël slegs die smelter- en staalbedrywe. Dit sluit nie eens die ernstige werksverliese in sektore soos mynbou, nuwe voertuie en voertuigkomponentvervaardiging in nie,” sê hy.

Du Plessis meen die Nedlac-proses het die situasie glashelder gemaak. Die afleggings is nie ’n onvermydelike ekonomiese verskynsel nie, dit is die gevolg van beleidsonsekerheid, staatsversuim en ’n totale gebrek aan politieke wil.

’n Regering wat géén dringendheid of empatie toon nie

Volgens Du Plessis lê die kern van die probleem by die regering se apatie.

“Die regering se gebrek aan dringendheid spruit uit ’n algehele gebrek aan empatie vir die Suid-Afrikaanse bevolking. Die grootste deel van diegene wat geraak word is nie eers Solidariteit-lede nie, maar eerder ongeskoolde werkers,” sê hy.

Du Plessis verduidelik dat Solidariteit reeds maande lank vra vir ’n multidissiplinêre regeringsreaksie, omdat die omvang van die afleggings verskeie departemente raak.

“Die regering herhaal dat daar sogenaamd ‘gekoördineerde prosesse’ bestaan, maar aan die onderhandelingstafel het dit duidelik geword dat geen sulke prosesse werklik bestaan nie,” sê hy.

Volgens Du Plessis was die gesprekke met regeringsverteenwoordigers verontrustend, aangesien dit duidelik geword het dat hulle min begrip het van kritieke prosesse soos artikel 189-afleggings en artikel 197-oordragte.

“Daar is ’n merkbare ontkoppeling van die werklikheid op grondvlak, en ’n ooglopende onvermoë om die spoed en omvang van die krisis te begryp. Wat egter die meeste ontstel, is die duidelike gebrek aan empatie met die werkers en gesinne wat hul inkomste verloor,” sê hy.

Du Plessis meen die regering kán beslissend optree, soos ons so duidelik gesien het tydens die G20-beraad toe alles dringend perfek moes wees. “Maar hulle doen dit slegs wanneer dit in lyn is met hul eie belange. Wanneer dit by gewone werkers kom, ontbreek die politieke wil en leierskap,” sê hy.

Solidariteit se strewe

Met die artikel 77-dispuut plaas Solidariteit die regering in die beskuldigdebank. Die doel is dat die regering:

  • erken dat hul beleid en versuime dié krisis veroorsaak het;
  • konkrete en samehangende oplossings voorlê; en
  • uiteindelik ’n koördinerende, multidissiplinêre plan implementeer om werksverliese te stop.

“Totdat die regering werklik verantwoordelikheid aanvaar en optree sal Solidariteit voortgaan om druk toe te pas, nie net vir hul eie lede nie, maar vir alle Suid-Afrikaanse werkers wat die prys betaal vir staatsversuim,” sluit Du Plessis af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel