Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
#VlymskerpVerkope: Bemeester die kuns om ʼn ‘nee’ in ʼn ‘ja’ te verander
Deur Kyla-Ann du Toit
Elke verkoopspersoon ken daardie oomblik: jy gee jou beste aanbod, jy glo in jou produk en dan sê die kliënt eenvoudig “nee”. Maar wat as daardie “nee” nie die einde van die gesprek is nie, maar net die begin van ʼn nuwe geleentheid?
In Solidariteit se volgende #VlymskerpVerkope-webinaarsessie op 17 November 2025 om 13:00 gaan G.P. van Rheede van Oudtshoorn, ʼn gesoute verkoopsafrigter en kommunikasiespesialis, jou wys hoe om kliëntbesware met selfvertroue, empatie en insig te hanteer. Hy gaan jou leer hoe om aan ʼn toe deur te klop – slimmer, skerper en met ʼn ingesteldheid wat resultate lewer.
Leer hoe om elke ‘nee’ in ʼn ‘ja’ te omskep
G.P. glo dat elke “nee” bloot ʼn uitnodiging is tot beter begrip. Met dekades se ervaring in verkoopsontwikkeling, kliëntebetrokkenheid en spanprestasie, het hy al talle professionele persone gehelp om hul kommunikasievaardighede te slyp en hul invloed te vergroot. As stigter van Coppertop Consulting fokus hy daarop om mense te help groei deur betekenisvolle gesprekke, strategiese denke en praktiese vaardigheidsontwikkeling.
Wat gaan jy in die sessie leer?
In hierdie #VlymskerpVerkope-sessie gaan jy leer:
- • hoe om teenstand in ʼn geleentheid te verander;
- • hoe om vertroue en bereidwilligheid te bou; en
- • hoe om gesprekke suksesvol en met die regte ingesteldheid te benader.
Danksy G.P. se insigte gaan jy verstaan hoe om ʼn “nee” as ʼn natuurlike deel van die verkoopsproses te gebruik – ʼn kans om jou benadering te verfyn, jou kliënt beter te verstaan en jou invloed te versterk.
ʼn Gratis sessie wat jou perspektief gaan verander
Of jy nou ʼn ervare verkoopspersoon is of pas met jou loopbaan begin het, hierdie gratis webinaar gaan jou wys hoe om verwerping te verstaan, doelgerigte gesprekke te voer en besware in geleenthede te omskep.
Datum: 17 November 2025
Tyd: 13:00 – 13:30
Plek: Aanlyn via Microsoft Teams
Moenie hierdie inspirerende en praktiese sessie misloop nie! Klik hier om vir die sessie te registreer en kom slyp jou verkoopsvaardighede.