loading
Artikels
6 maande gelede
waarom-sidder-die-landbousektor-oor-agoa

Foto Krediet: Pexels

Waarom sidder die landbousektor oor Agoa?

Die African Growth and Opportunity Act (Agoa), wat sedert 2000 die kern van die VSA se handelsbeleid met Afrika vorm, bied ongekende geleenthede vir lande suid van die Sahara. Dit stel 32 lande in staat om meer as 1 800 produkte belastingvry na die VSA uit te voer, benewens die 5 000 produkte wat reeds onder die Generalized System of Preferences as belastingvry kwalifiseer. Hierdie handelsvoorregte is egter nie ʼn outomaties voorreg nie – lande moet aan streng voorwaardes voldoen, soos onder meer dat ʼn markgerigte ekonomie, die oppergesag van die reg, politieke vryhede en die beskerming van menseregte in die lande gehandhaaf word.

Vir Suid-Afrika is Agoa van strategiese ekonomiese belang. In 2024 het ons uitvoere na die VSA R156,8 miljard beloop, wat werk aan sowat 576 000 mense verskaf het – met 250 000 poste wat direk of indirek afhanklik is van Agoa. Dit verteenwoordig 3,4% van Suid-Afrika se BBP, en dit lewer ʼn kritieke bydrae tot ekonomiese groei en werkskepping.

Die impak van uitsluiting uit Agoa

Indien Suid-Afrika weens sy buitelandse beleid uit Agoa geskop word, sal die landbousektor, waar Afrikaners sowat 75% van kommersiële boere uitmaak, die swaarste getref word. Altesaam R10 miljard se landbou-uitvoere na die VSA sal in gevaar wees, met verdere verwoestende gevolge vir nywerhede soos die staalnywerheid, die chemiese bedryf, mynbou en die motorbedryf, wat grootliks uit ambagslui en ingenieurs bestaan – waarvan talle Solidariteit-lede is. Hierdie sektore sal onherstelbare skade ly en gemeenskappe wat reeds ekonomies kwesbaar is, sal die grootste slagoffers wees.

Ironies genoeg sal Suid-Afrika se politieke elite, beskerm deur swart bemagtigingstransaksies, grotendeels onaangeraak bly. Dit verklaar waarom die regering onverskillig staan teenoor sy verslegtende verhouding met die VSA.

Solidariteit Beweging se oproep

Die Solidariteit Beweging spreek sy diepste waardering uit vir Suid-Afrika se deelname aan Agoa en doen ʼn ernstige beroep op die VSA om ons insluiting in Agoa te handhaaf. Alternatiewe metodes van druk moet oorweeg word om beleidsverandering by die ANC te verseker, eerder as om ekonomiese strafmaatreëls in te stel wat gewone Suid-Afrikaners en kwesbare gemeenskappe sou benadeel.

Die Solidariteit Beweging verskil met die ANC, maar is lief vir ons land. Ons besoek aan die VSA is om ʼn positiewe uitkoms vir ons land te vind. Dit vereis wel om druk op die ANC te plaas, aangesien hul internasionale en nasionale beleid tot groot nadeel van ons mooi land en sy mense strek.

Solidariteit neem die stryd na die hoogste vlakke, maar ons het jou stem nodig om nóg sterker te staan. Hoe meer mense saamstaan, hoe groter is ons impak. Maak seker dat jy deel is van die beweging – stuur jou stem na die Withuis! Klik hier

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel