Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wanbesteding in Gauteng: Onderwysdepartement kan nie vertrou word
Leré Nel
ʼn Sondagkoerant het onlangs oor bewerings van korrupsie in Gauteng se skoolveiligheidstenders berig. Die Gautengse onderwysdepartement (GDO) het ontken dat daar tot dusver enige oortredings was wat die integriteit van vanjaar se matriekeindeksamen kan ondermyn.
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die jongste omstredenheid oor beweerde tenderkorrupsie is net nóg ʼn bewys van ʼn stelsel wat al jare lank onder wanbestuur ly.
“Ons weet daar is korrupsie en ons weet miljarde rande is die afgelope 11 jaar in die Gautengse onderwysdepartement wanbestee,” sê Prinsloo.
“Ons weet van skole wat nie klaar gebou is nie, voedingskemas met verdagte tenderprosesse, die Covid-19-“-ontsmettingskandaal wat miljoene rande gekos het, en vele meer.”
Volgens haar voel die kinders en onderwysers in klaskamers die impak hiervan.
“Skole kon gebou word, hulpbronne kon ontsluit word, en talle meer onderwysers kon aangestel word as dit nie vir hierdie wanbesteding was nie,” meen Prinsloo.
“Hierdie is ʼn growwe skending van menseregte, en dit veroorsaak toenemende agteruitgang en ontneem duisende kinders van die hoëgehalte-onderwys waarop hulle geregtig is.”
Die GDO se onwilligheid om deur enige entiteit aanspreeklik gehou te word of enige kritiek te aanvaar, is ʼn bron van kommer vir onderwysers, leerders, ouers en enigiemand wat by ʼn skoolgemeenskap betrokke is.
Dit is duidelik dat die onderwysdepartement én sy stelsels nie vertrou kan word nie. Ongelukkig is ouers en onderwysers deel van dié stelsel en afhanklik daarvan.
Die beste wat ouers of onderwysers dus kan doen, is om by ʼn vakbond aan te sluit wat daagliks korrupsie beveg en sy lede se werk beskerm.
Word hier ʼn lid van Solidariteit.