loading
Artikels
3 weke gelede
onderwyskrisis-broei-skole-onder-druk-om-beleide-in-rekordtyd-te-wysig

Foto Krediet: OkayDeer

Onderwyskrisis broei: Skole onder druk om beleide in rekordtyd te wysig

Deur Leré Nel

Talle skole in Gauteng en die Vrystaat is onlangs op kort kennisgewing opdrag gegee om hul taal- en toelatingsbeleide teen 15 Augustus 2025 te hersien – minder as ʼn maand ná die einde van die winterskoolvakansie.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) is diep bekommerd oor hierdie onrealistiese sperdatum, veral aangesien riglyne vir die implementering van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) eers op 12 Junie gepubliseer is – skaars twee weke voor die skoolvakansie. Afrikaanse skole verkeer nou onder groot druk om komplekse beleidsdokumente betyds aan te pas, sonder duidelike rigting of behoorlike konsultasie.

Wat vereis die Bela-wet?

Die Bela-wet, wat in Desember 2024 onderteken is, vereis dat alle skole hul taal- en toelatingsbeleide moet hersien, waarna dit deur die provinsiale onderwyshoof goedgekeur moet word. Skole het egter geen formele skriftelike opdrag ontvang nie – kommunikasie is in baie gevalle via WhatsApp-boodskappe versprei en verwys bloot na skyfies wat op 17 Julie tydens ʼn skoolhoofvergadering gedeel is.

“Om van skole te verwag om sulke ingewikkelde beleide, wat ʼn skool se toekoms wesenlik kan beïnvloed, in minder as ʼn maand te hersien, is eenvoudig onredelik,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Beleide wat sonder behoorlike proses gewysigword, kan ongeldig wees en regsgevolge hê.”

Die SOS vra vir uitstel

Die SOS doen ʼn dringende beroep op die Gautengse onderwysdepartement om die sperdatum van 15 Augustus tot ten minste 30 September 2025 uit te stel. Dié uitstel sal skoolbeheerliggame die geleentheid gee om:

  • die riglyne deeglik te bestudeer
  • kapasiteitsbepalings verantwoordelik te doen
  • ouers en die breër gemeenskap by die proses te betrek.

Die SOS help skole reeds met versoeke vir uitstel en sal regshulp bied waar nodig.

Hoe help die SOS?

Die Skoleondersteuningsentrum het ʼn span regskenners en onderwyspraktisyns ingespan om skole by te staan met die volgende:

  • Konseptaal- en -toelatingsbeleide wat aan wetlike vereistes voldoen en die beste belang van leerders en skoolgemeenskappe dien.
  • Riglyne vir kapasiteitsbepaling, sodat skole verantwoordelik kan bepaal hoeveel leerders hul fasiliteite kan akkommodeer.
  • Regsadvies en direkte ondersteuning aan skoolbeheerliggame.

Hierdie kwessie is ook by die Centurion Skoleforum bespreek, waar verskeie skole en beheerliggaamlede bymekaargekom het om strategieë te ontwikkel om die kwessie saam aan te pak.

Solidariteit staan saam

“Skole het ʼn grondwetlike reg op moedertaalonderrig en regverdige administrasie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons beroep onderwysowerhede tot konsekwente, formele kommunikasie – en om op te tree in belang van onderwysgehalte, nie beheer nie.”

Solidariteit en die SOS sal aanhou veg vir ʼn regverdige proses, vir die regte van ouers en gemeenskappe, en vir doeltreffende moedertaalonderrig.

Bly ingeskakel by Solidariteit en die SOS se platforms om op hoogte te bly van kwessies wat jou skoolgemeenskap raak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel