loading
Blogs
1 jaar gelede
hoe-nou-gemaak-met-die-ngv

Foto Krediet: Solidariteit

Hoe nou gemaak met die NGV?

Theuns du Buisson


Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nou wet.
Suid-Afrika word nou regeer deur ʼn regering van nasionale eenheid (RNE). Niemand weet regtig nog hoe een van die twee (die RNE en die NGV) gaan uitspeel nie, maar waaroor ons wél redelik seker kan wees, is hóé die NGV gaan uitspeel ás die RNE, of Solidariteit se hofsaak daarteen dit nie gou in die kiem smoor nie.
Die werklikheid is dat die NGV selfs nie met die koms van RNE kan werk nie; nie eers as ʼn ander party as die ANC, soos die DA, dit administreer nie.
Pres. Cyril Ramaphosa het tydens die opening van die parlement buitendien aangedui hy hou voet by stuk dat die NGV móét gebeur. Dié geveg gaan dus ongelukkig voort.
In ʼn land waarvan amper die helfte van die bevolking werkloos is, kan ons eenvoudig nie bekostig om alle gesondheidsorg aan die staat oor te laat nie. Daar is net té veel mense wat ontvang, en té min wat bydra.
Die volle implementering van die stelsel sal ʼn buitensporige R660 miljard kos. Die NGV sal dan verreweg die grootste item op die nasionale begroting wees. In die tweede jaar daarvan sal dit volgens sommige berekenings meer as ʼn biljoen rand (ʼn “trillion” in Engels) kos.
Ek dink egter dit sal heelwat minder wees, maar net omdat daar op daardie tydstip nie meer dokters in die land gaan oor wees wat uit die NGV betaal sal moet word nie. Hoe dit ook al sy, die uiteinde van NGV is vernietigend. Dit sal óf die land vernietig, óf eers gesondheidsorg en dán die land.
Die volle implementering daarvan sal natuurlik nooit gebeur nie. Dit kán doodeenvoudig nie, want daar is nie die geld, administratiewe vermoë, of aptyt daarvoor onder medici nie. Intussen weier die minister óf sy amptenare tot dusver om enige tydlyn te verskaf vir wanneer en hoe wát sal gebeur. Ons kan wel daarvan seker wees dat die regering reeds besig is om vir die administrasie van die NGV voor te berei.
Om die NGV te befonds sal die bestaande mediesefondsbelastingkrediete waarskynlik volgende jaar wegval. Dit beloop tans R364 per maand vir die belastingbetaler en die eerste afhanklike, en R246 vir die daaropvolgende afhanklikes. ʼn Gesin van vier sal dus R1 220 per maand iewers moet uitkrap. Dit sal nie noodwendig van die begin af gebeur nie, maar ons kan verwag dat die krediete volgende jaar ten minste gehalveer sal word. Baie mense sal dan nie meer hul bydraes tot hul mediese fondse kan bekostig nie, en meer mense sal dus van die staat afhanklik raak. Namate die land nader aan die volle implementering van die NGV beweeg, sal al meer belastings gehef word.
Dit is onseker of die NGV-planne enigsins van die grond af sal kom. Dit beteken nie dit sal nie elke belastingbetaler ʼn klomp geld kos nie. Daarom is daar wél ʼn waarborg wat belangrik is, en dit is dat Solidariteit alles in die stryd sal werp om hierdie ongrondwetlike, onuitvoerbare en onbekostigbare stelsel te keer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Soortgelyke artikels

similar article avatar

Bogger die ANC, ek bly!

Nuus
21 Augustus 2025


similar article avatar

Dialoog of dooie woorde?

Nuus
21 Augustus 2025