
Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
ʼn Storie van hoop: van onsekerheid na ʼn nuwe begin
Deur Eloise Visser, lid van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk
In 2023 het ek skielik sonder ʼn inkomste gesit. Ek was nie op daardie stadium ʼn lid van Solidariteit nie en moes noodgedwonge begin planne maak om ʼn inkomste te genereer – van virtuele assistent tot kosmaak op bestelling. My idees was volop, maar tyd was min.
Ná meer as tien jaar by dieselfde groep maatskappye, het ek braaf besluit om vir net drie poste aansoek te doen – almal min of meer in my veld:
- • Ek het geen reaksie op die eerste pos se aansoek gekry nie.
- • Die tweede een het kortstondige belangstelling gewek, maar dit het doodgeloop.
- • En toe … ontdek ek ʼn pos by Solidariteit self!
Ek het my CV ingestuur en asem opgehou. Net toe ek moed begin verloor het, het ek ʼn oproep ontvang. Ná ʼn gesprek oor salaris en markverwante vrae, is ek vir ʼn onderhoud genooi. Ek het paniekerig geraak – ek was meer as tien jaar laas in so ʼn situasie! Gelukkig het ek nuttige artikels op Solidariteit se webwerf gevind oor hoe om vir ʼn onderhoud voor te berei. Dit het my gehelp om deur die onderhoud te kom, al was ek senuweeagtig en het ek my tale gemeng.
Gedurende die proses het ek ervaar hoe die Here my lei. Ek het diep binne geweet: As jy die pos wil hê, is dit joune. Ek het besluit – dit is waar ek wil wees: by ʼn instelling wat my waardes deel en ʼn verskil maak. Ek het selfs een aand gedroom dat ek op 8 Augustus begin …
En dit het presies só gebeur! Op 3 Augustus het ek my werksaanbod ontvang en is ek gevra of ek op die 8ste kon begin. Ek was net sewe dae sonder ʼn inkomste. Daardie dag was toevallig ook Solidariteit se Vrouedagfunksie – ʼn boodskap wat ek broodnodig gehad het, het my dáár versterk.
Vandag werk ek by ʼn organisasie wat omgee vir sy mense. Ek het intussen ook ʼn lid van Solidariteit geword en sien daagliks hoe waardevol die voordele en ondersteuning is.
Hierdie hele reis het my geleer: met die regte hulpmiddele, die regte mense en geloof, is daar altyd uitkoms. Daar is altyd hoop – al lyk dit soms of die pad doodloop.
Jou storie kan ook ander inspireer. Deel jou reis as ʼn kantoorpraktisyn met ons, en word deel van ʼn gemeenskap wat mekaar dra en ondersteun.
Indien jy nog nie deel van Solidariteit se aanlyn groep vir kantoorpraktisyns is nie, klik hier en sluit vandag nog aan!