loading
Artikels
15 uur gelede
silly-season-is-hier-ondersteun-jou-werknemers-so

Foto Krediet: OkayDeer

‘Silly season’ is hier – ondersteun jou werknemers só

Deur Kyla-Ann du Toit

Die einde van die jaar bring altyd ʼn mengsel van ʼn gejaag om sperdatums te haal en laaste-minuut-take wat gedoen moet word. Dit is die sogenaamde “silly season” – ʼn tyd waar baie werknemers uitgeput, gespanne en oorlaai voel. Gedurende hierdie “seisoen” is dit belangrik dat werkgewers ʼn voorbeeld stel en vir hulle personeel wys dat hulle oor hul welstand omgee.

Navorsing toon dat werknemers wat voel dat hul werkgewer werklik omgee oor hul welstand, meer gemotiveerd en lojaal is. Met ander woorde: wanneer jy oor jou personeel omgee, gee hulle weer om oor jou en jou maatskappy. Dit is dus belangrik dat jy die nodige ondersteuning aan jou werknemers bied.

Hoekom is jou personeel so moeg?

Wanneer hierdie tyd van die jaar se druk gepaardgaan met verhoogde werkverpligtinge en sperdatums wat bots, is dit geen wonder dat jou werknemers moeg en oorlaai voel nie.

Navorsing wat internasionaal in November 2024 uitgevoer is deur die American Psychiatric Association toon dat die hoofoorsake van stres en moegheid tydens “silly season” die volgende is:

  1. 1. Finansiële druk (46%)
  2. 2. Emosionele las van verlies of afstand van geliefdes (47%)
  3. 3. Uitdagende familie-interaksies of konflik (35%)

Hierdie temas is ook in Suid-Afrika duidelik sigbaar. Onlangse navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) toon dat plaaslike werknemers dieselfde spanning ervaar, wat vererger word deur unieke uitdagings soos krag- en wateronderbrekings, ekonomiese onsekerheid en die druk om take voor die einde van die jaar af te handel.

Die SNI wys verder daarop dat werknemers in hierdie tyd van die jaar geneig is om te bekommer oor die toekoms van die land, hul finansies, werkloosheid of werksverlies, asook oor kwessies soos misdaad en stygende lewenskostes. Wanneer werkgewers doelbewus sekuriteit en ondersteuning spesifiek in hierdie tyd van die jaar skep, bied dit verligting en rus. Só bou jy ʼn werkskultuur waar mense veilig voel om hul beste te gee.

Praktiese ondersteuning vir jou werknemers

Een manier om jou werknemers se las ligter te maak, is om hulle met die regte vaardighede toe te rus waarmee hulle hierdie uitdagings en bekommernisse in die werkplek kan bestuur. Nuwe personeel voel dikwels onseker of oorweldig. Wanneer jy in hul ontwikkeling belê, wys jy nie net dat jy omgee nie, maar jy verseker ook ʼn span wat selfversekerd en bekwaam is.

Solidariteit stel die volgende kursusse voor wat ideaal vir nuwe werknemers is, maar ook waardevol is om jou bestaande span se vaardighede op te skerp:

  1. 1. Gevorderde konflikbestuur – help jonger werknemers om gesonde maniere te vind om verskille in die werkplek te hanteer. Klik hier.
  2. 2. Projekbestuur – werknemers wat verantwoordelik is vir funksies of beplanning, prioritisering en koördinering word met die nodige vaardighede toegerus om dit suksesvol te kan doen. Klik hier.
  3. 3. Kantooretiket – verseker dat nuwe werknemers makliker by jou maatskappy se kultuur inpas. Klik hier.
  4. 4. E-posetiket en Outlook vir beginners – leer hoe om professioneel te kommunikeer en jou e-posse doeltreffend te bestuur. Klik hier of hier.
  5. 5. Emosionele intelligensie – ʼn kernvaardigheid vir selfbewustheid en gesonde verhoudings in die werkplek. Klik hier.
  6. 6. Kommunikasie in die werkplek – help jou span om boodskappe duidelik en toepaslik oor te dra. Klik hier.
  7. 7. MS Word en MS Excel vir beginners – veral handig vir jonger werknemers wat nog nie goeie rekenaarvaardighede het nie. Klik hier of hier.
  8. 8. Professionele optrede in die werkplek – noodsaaklik vir werknemers in hul eerste werk, waar basiese norme en gedragsreëls vasgelê word. Klik hier.

Hierdie kursusse sowel as honderde ander kursusse is gratis beskikbaar vir lede op Solidariteit se leerportaal. Al wat jy moet doen, is om jou gratis profiel te skep. Indien jy nog nie ʼn lid van Solidariteit is nie, het jy die keuse om vir die kursusse te betaal, of klik hier om sommer vandag nog aan te sluit en bereik só jou volle potensiaal.

Werkgewers wat tydens “silly season” hul werknemers se welstand belangrik beskou, belê nie net in hul personeel nie, maar ook in die langtermynsukses van hul maatskappy. Jou werknemers is moeg – wys jy gee om en jy sal die verskil in hul werk en lojaliteit sien.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel