
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Stellenbosch Raad besluit om teen Kannemeyer op te tree ná rasvideo
Solidariteit verwelkom die dissiplinêre proses teen die mensehulpbronnebestuurder van die Stellenbosch Munisipaliteit, Alexander Kannemeyer. Ons vertrou dat hierdie proses tot ontslag sal lei, aangesien optrede teen hom die regte stap is.
Solidariteit-lede is vir ʼn lang periode deur hom geboelie. Sy rasseopmerkings en intimidasie is onaanvaarbaar. Daar is geen plek vir hierdie soort optrede in enige werkplek nie.
Die video wat hierdie week versprei is, dien as finale bevestiging van sy bisarre rasse-ideologie. Solidariteit sal die proses fyn dophou. Baie van ons lede is slagoffers van sy optrede en ons sal sorg dat geregtigheid geskied.
In terme van Aanhangsel A – Deel 2 van die Plaaslike Owerheid: Dissiplinêre Regulasies vir Senior Bestuurders, word onbillike diskriminasie en enige oortreding van die Gedragskode vir munisipale werknemers as ernstige wangedrag beskou.
Die Gedragskode vir munisipale werknemers word vervat in Skedule 2: Deel 2 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (No. 32 van 2000). Die Gedragskode bepaal dat alle munisipale werknemers te alle tye onpartydig moet optree en alle mense, insluitend mede-kollegas, gelyk moet behandel sonder voorkeur of benadeling. ʼn Oortreding van die Gedragskode is gronde vir ontslag.
“Ons is bly dat die DA-geleide munisipaliteit by ʼn beleid teen rassediskriminasie hou en dat reg seëvier,” sê Ettienne Pio, litigant wat die saak namens Solidariteit se lede hanteer.
Volgens Solidariteit is hierdie uitlatings nie net onaanvaarbaar nie, maar ook ongrondwetlik.
Kannemeyer se woorde en optrede is niks minder as ’n openlike aanval op meriete en billikheid nie. “Daar is eenvoudig geen plek in die openbare sowel as die privaat sektor vir bestuurders wat werknemers se meriete minag bloot op grond van hul ras of geslag nie,” sê Pio.