loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
250-000-poste-in-gedrang-solidariteit-vra-ramaphosa-vir-dringende-ingryping

Foto Krediet: Okat Deer

250 000 poste in gedrang – Solidariteit vra Ramaphosa vir dringende ingryping

Solidariteit doen ʼn dringende beroep op president Cyril Ramaphosa om persoonlik in te gryp in die dreigende werkverlies-krisis.

In ’n brief wat op 4 September aan die president gestuur is, waarsku Solidariteit dat bykans 250 000 poste in Suid-Afrika op die spel is weens ’n golf van artikel 189-kennisgewings wat deur groot werkgewers uitgereik is.

Die jongste afleggings raak groot maatskappye soos Glencore, ArcelorMittal, Ford Suid-Afrika, Assmang en Goodyear SA*. Al hierdie maatskappye is kern tot die res van die vervaardigingswaardeketting in Suid-Afrika en dit kan tot verdere afleggings elders lei.

“Dit is ’n bloedbad van werkverliese wat Suid-Afrika se reeds kritiek-lae werkloosheidsyfer gaan vererger,” waarsku Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit.

Die brief aan Ramaphosa wys hoe hierdie massa-afleggings nie net die gevolg van wêreldwye ekonomiese druk is nie, maar dat stelselmatige regeringsmislukkings Suid-Afrikaanse nywerhede toenemend onmededingend maak. Dit sluit in Eskom se skerp tariefverhogings wat plaaslike produksie minder mededingend maak; Transnet se spoor- en vraginfrastruktuur wat byna tot ʼn stilstand gekom het en koste opjaag; die regering se traagheid om gunstige uitvoertarief-ooreenkomste soos Agoa betyds te finaliseer; en ’n algemene gebrek aan beleid en steun aan infrastruktuur.

In die brief vra Solidariteit die president om onmiddellik ’n krisisvergadering met alle rolspelers – nywerhede, vakbonde en relevante staatsdepartemente – te belê om planne te beraam wat verdere afleggings kan keer.

Verder vra Solidariteit dat ’n gunstige elektrisiteitstarief vir energie-intensiewe nywerhede, soos smelters, sonder uitstel ingestel word – iets wat glo reeds deur die kabinet goedgekeur is.

Die organisasie vra ook dat die president ’n multidepartementele krisisspan aanstel om dringend die uitdagings rondom infrastruktuur en uitvoere aan te spreek. Daarbenewens moet die Departement van Arbeid tydelike verligtingsmaatreëls beskikbaar stel om werknemers te ondersteun totdat volhoubare, langtermynoplossings geïmplementeer is.

Laastens beklemtoon Solidariteit dat die spoedige vestiging van die nodige voorwaardes vir ’n handels­ooreenkoms met die VSA van kardinale belang is, en dat vakbonde se aktiewe betrokkenheid noodsaaklik is om werkers se belange te beskerm en eerste te stel.

“Sonder daadwerklike en gekoördineerde optrede gaan die maatskaplike en ekonomiese koste van hierdie afleggings buite beheer eskaleer – dit bedreig nie net poste nie, maar Suid-Afrika se hele industriële toekoms,” sê Venter.

Sien die skrywe aan die president hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel