loading
Artikels
2 dae gelede
hoekom-paul-kruger-orania-toe-trek

Foto Krediet: Verskaf

Hoekom Paul Kruger Orania toe trek

Deur Leré Nel

Op 24 September 2025, tydens ʼn partytjie ter viering van oudpresident Paul Kruger se 200ste verjaardag, vertrek ʼn presiese replika van die Paul Kruger-standbeeld wat tans op Kerkplein in Pretoria staan na Orania. Maar waarom al die moeite om ʼn bronsbeeld van 1,5 ton 1600 km vêr te laat reis?

ʼn Paar interessante feite oor die nuwe Kruger-monument

Die nuwe standbeeld, gegiet deur Jacques Müller – ʼn beeldhouer en skilder van Pretoria – is ʼn replika van die oorspronklike Kruger-standbeeld deur Anton van Wouw. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het ʼn 3D-skandering van die beeld laat doen en dit toe in brons laat giet. Die koste om die beeld te giet, ʼn voetstuk te bou en die beeld op te rig beloop R2,6 miljoen. Om die projek te help befonds, is ʼn steneveiling van stapel gestuur, waar enigiemand wat die projek wil ondersteun ʼn simboliese “steen” teen R1 000 elk kan koop. Indien jy by hierdie betekenisvolle projek betrokke wil raak, koop jou Kruger-steen hier!

ʼn Waardige nuwe tuiste vir Oom Paul

Die oorspronklike Kruger-beeld op Kerkplein, eens die trots van die hoofstad, staan vandag in ʼn omgewing gekenmerk deur verval en misdaad. Vir baie Afrikaners is dit nie meer ʼn plek van samekoms of erfenis nie – niemand wil meer daarheen gaan nie. “Nou is die tyd om vir Kruger ʼn waardige nuwe tuiste te gee deur ʼn dorpsplein te skep waar Afrikaners weer kan saamkom, die vryheidsideaal kan vier en dit aan die volgende geslag kan oordra,” verduidelik dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

ʼn Simbool van die vryheidsideaal

As daar een persoon in die geskiedenis van die Afrikaner is wat die Bittereindergees verteenwoordig, is dit Paul Kruger. Sy vasbeslotenheid om nie vryheid prys te gee nie sal altyd vir ons ʼn bron van bemoediging wees. Volgens Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), beliggaam Kruger presies dit wat Orania vandag bou: ʼn plek waar Afrikaners weer selfstandig en vry kan leef.

Kruger in Orania se nuwe dorpskern

Orania se nuwe stadskern is reeds beplan, en dit is hier waar die Kruger-beeld sentraal geplaas sal word – naby die beplande stadsplein. Hier sal inwoners en besoekers kan bymekaarkom, inkopies doen, koffie geniet en hul kultuur vier – terwyl hulle opkyk na die vergestalting van die Afrikaner-ideaal. Die monument gee nie net statuur aan die dorp nie, maar herinner ook aan die Afrikaner se eeue lange stryd vir vryheid – van die Groot Trek, deur die Boererepublieke heen, tot die blywende droom van selfbeskikking.

ʼn Permanente herinnering

Die woord monument beteken nie net om te herinner nie, maar ook om te waarsku. Die Kruger-monument in Orania sal Afrikaners daaraan herinner dat vryheid altyd bewaar moet word, maar dit waarsku ook die volk om nie sy geskiedenis te vergeet nie. Dit is ʼn geskenk van OOM, die FAK en ondersteuners regoor die land – en ʼn duidelike boodskap aan jonger geslagte dat hulle deel is van ʼn groter storie wat nog lank nie klaar geskryf is nie.

Die Kruger-beeld trek Orania toe omdat dit daar weer ʼn tuiste het – ʼn tuiste wat die Afrikaner se vryheidsideaal herbevestig en aan die wêreld verklaar: ons bou steeds aan die toekoms.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel