loading
Blogs
1 jaar gelede
kom-ons-wees-nou-eerlik-die-ngv

Foto Krediet: Solidariteit

Kom ons wees nou eerlik: Die NGV

Die enigste versekering in die idee van ’n Nasionale Gesondheidsversekering is die versekering van onkeerbare vergrype en verval.

Onder mediese beroepslui en kenners in die veld is daar grootliks konsensus: Hier kom gróót moeilikheid. En kan ek raai dat enigeen wat op hoogte is van moderne Suid-Afrika se wel en weë – mense wat lees en luister – dit ook sal beaam?

Tog is daar baie onder ons wat ten minste nuuskierig is oor die idee van ’n NGV.

Die woorde “gratis gesondheidsorg” klink mos aanloklik, veral in tye van ekonomiese knyp waarin die ongeskikte hoë mediesefondspremies en uitgeputte spaarfondse jou, én my, soms naar maak. En in ’n land waar armoede so ’n wrede en wydverspreide werklikheid is, het steun vir die NGV dalk ook die skyn van filantropie.

Maar stadig oor die klippe. Oor die hoë koste van mediese sorg sal ons natuurlik moet praat (as ons weer eerlik moet wees). Tog is die duiwel wat nóú voor die deur staan, die een waarvoor ons selfs banger moet wees.

Die ANC se NGV.

Dit is beslis nie oordramaties om met erns te waarsku teen ’n gesondheidsorgstelsel in die hande van ’n korrupte staat nie. Solidariteit het sy voorneme te kenne gegee om sterk daarteen kapsie te maak, want ons weet wat om te verwag.

Hoe weet ons wat om te verwag? Eenvoudig. Suid-Afrika hét reeds ’n openbare gesondheidsorgstelsel met “gratis gesondheidsorg”.

Kom ons aanvaar dit was die oefenlopie.

Terwyl die NGV-wetsontwerp in die laaste maande voor die Nasionale Raad van Provinsies gelê en broei het, en dit binnekort na die president se tafel vir ondertekening sal skuif, het ons nuusmedia die laaste weke hierdie volgende stof tot nadenke gegee (ek gee net die opskrifte en datums):

  • ‘Verpleeg-assistent verkrag glo pasiënt in hospitaal se toilet’ (2 Oktober, Netwerk24)
  • ‘Nalatigheid: R9 m. se mediese eise moet in Vrystaat uitbetaal word’ (24 Oktober, Netwerk24)
  • ‘Ingryping nodig by hospitaal op De Aar’ (3 November, Maroela Media)
  • ‘Groot kommer oor medisyne-tekorte in Noord-Kaap’ (6 November, Maroela Media)
  • ‘Hospitaal in Bloem sukkel sonder kritieke masjiene wat stukkend staan’ (7 November, Netwerk24)
  • ‘Mediese nalatigheid: Teiken om eise te verminder met R50 mjd. misgeloop’ (9 November, Netwerk24)
  • ‘Waterkrisis in Gauteng: 100de operasies gekanselleer’ (15 November, Netwerk24)

Hierdie ontstellende opskrifte staan onder meer in drukletters op die getuigskrif van die Suid-Afrikaanse staatsbeheerde gesondheidsorg. Dinge soos dié gebeur ondanks die feit dat daar talle bekwame dokters en mediese personeel is wat vir die staat werk – knap, goeie en gawe geneeshere en mense.

Maar wat die berigte hier bo verál van getuig, is hopeloos gebroke administratiewe stelsels en geplunderde hulpbronne. En pleks daarvan dat die regering hulle plig nakom om juis dit te verbeter, wil hulle die huidige stelsel uitbrei en vergroot.

Hulle verkies om nie die pasiënt se bloeding keer nie. Hulle wil die aantal pasiënte eerder vermeerder.

Hulle wil jou en my saam in hierdie vuil hospitaalsaal indwing, en die funksionerende deel van ons gesondheidsorgstelsel eers ongevalle toe en dan bokveld toe stuur.

Solidariteit het reeds verslae uitgereik ná raadpleging met kenners op hierdie gebied. Die NGV is nie net onnodig vir Suid-Afrika se behoeftes nie. Dit is ook tot so ’n mate onbekostigbaar dat miljoene belastingbetalers finansieel vernietig sal word om hierdie oneerlike doelwit na te jaag.

En dan die belangrikste van alles: dis onwerkbaar.

Dit kán nie werk nie. En nóg sout in die wonde is dat die meeste regeringsamptenare dit self ook weet. Hulle weet al te goed dit kan nie werk nie.

Maar kom ons wees nou eerlik: met ’n verkiesing om die draai en miljoene kiesers om te paai, wie gaan nou oor gesondheidsorg wakker lê en na sy gewete luister, eerder as om die rug op hierdie goue eend wat die goue eiers lê, te draai?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Soortgelyke artikels

similar article avatar

Bogger die ANC, ek bly!

Nuus
21 Augustus 2025


similar article avatar

Dialoog of dooie woorde?

Nuus
21 Augustus 2025