loading
Artikels
6 maande gelede
n-liefdesgids-vir-die-perfekte-valentynsdag

Foto Krediet: Unsplash

ʼn Liefdesgids vir die perfekte Valentynsdag

Valentynsdag hoef nie ʼn arm en ʼn been te kos nie. Daar is baie oulike maniere hoe jy die dag spesiaal kan maak, self al is jou beursie ʼn bietjie plat. Lees hier meer oor hoe jy jou Valentyn kan bederf:


Deur Kyla-Ann du Toit

“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.” – 1 Korintiërs 13:4-5

Die liefde is ʼn lied en jy kan jou nommer een hierdie Valentynsdag op die regte manier bederf! Of dit nou met ʼn romantiese ete, ʼn kreatiewe afspraak of ʼn spesiale gebaar is, Valentynsdag is die perfekte geleentheid om jou liefde vir jou wederhelfte te vier.

Hier is tien idees om jou Valentynsdag nóg meer spesiaal te maak:

  1. Piekniek onder die sterre: Pak ʼn mandjie vol lekkernye en geniet ʼn rustige aand in die opelug. Someraande is perfek hiervoor!
  2. Tuisgemaakte ete en fliek: Kook saam ʼn spesiale aandete en kyk ʼn romantiese fliek. Iets soos tuisgemaakte pizza of hamburgers is maklik, vinnig en altyd smullekker! Klik hier vir ʼn lys van die top- romantiese flieks.
  3. Sonsondergang-uitstappie: Besoek ʼn mooi uitkykpunt waarheen julle kan stap of fietsry – ʼn lekker aktiwiteit vir die fikse paartjies.
  4. Spa-aand tuis by die huis: Skep ʼn ontspannende atmosfeer met kerse en masseerolie. Dit hoef niks te kos nie en julle kan albei heerlik ontspan.
  5. Speletjiesaand met ʼn tikkie romanse: Speel gesels-speletjies met ʼn romantiese kinkel, soos vrae oor julle verhouding of vrae oor mekaar. Daar is altyd iets om van mekaar te leer!
  6. Kuns- en wyn-aand: Bespreek vir julle ʼn tafel by ʼn plek soos Clay Café waar julle kan verf en ʼn heerlike glasie wyn kan geniet. Julle kan dit self ook by die huis doen om kostes te bespaar. Koop klein skilderdoeke en kyk wie mekaar die mooiste kan skilder.
  7. ʼn Fotosessie: Reël vir julle ʼn fotosessie. Daar is baie fotograwe wat spesiale pryse vir Valentynsdag aanbied. Dit is ʼn geleentheid om mooi aan te trek en herinneringe te skep.
  8. Bordspeletjies: Daar is min dinge so lekker soos ʼn bordspeletjie-aand. Julle kan selfs ander paartjies nooi om die aand saam met julle te spandeer. Koop of maak heerlike vingerhappies wat julle kan geniet terwyl julle die vriendelike kompetisie aandurf.
  9. Karaoke-aand: Sing julle harte uit en lag saam oor die vals note. ʼn Karaoke-aand is ook iets wat julle saam met ander paartjies kan geniet.
  10. Uiteet: Bespreek ʼn tafel by julle gunstelingrestaurant. Restaurante is geneig om spesiale pryse vir Valentynsdag aan te bied. Dit is ligter op die sak én julle kan heerlik eet en kuier.

Of jy nou ʼn groot aand beplan of net ʼn spesiale oomblik deel, onthou dat liefde nie net oor hierdie een dag gaan nie – dit is iets wat ons elke dag moet uitleef.

Gelukkige Valentynsdag! Versprei die liefde asof daar geen môre is nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel