
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit vier Apteekmaand
Deur Kyla-Ann du Toit
September is Apteekmaand – ʼn tyd om die onmisbare rol van aptekers te vier. Terwyl dokters, hospitale en ander gesondheidspesialiste dikwels die kollig kry, is dit aptekers wat daagliks die eerste kontakpunt vir duisende mense is. Hulle bied raad, stel bekostigbare medisyne voor en skep hoop waar gesondheid en finansies hand aan hand gaan.
Ons het by Johan Maritz, apteker by Zuid-Afrikaans Hospitaal en adviesraadslid van die Solidariteit Aptekersnetwerk, gaan aanklop om meer te hoor oor aptekers se werk en die rol wat hulle in gemeenskappe speel.
Aptekers is die eerste linie
Maritz meen aptekers is vir baie mense die eerste linie van gesondheidsorg. “Ons is nie opgelei om te diagnoseer nie, maar ons kan goed adviseer, die regte medisyne voorstel vir minder ernstige toestande en dan verwys indien nodig,” verduidelik hy. Vir baie pasiënte, veral dié sonder ʼn mediese fonds, is apteke ʼn bekostigbare en toeganklike opsie vir gesondheidsorg.
Volgens hom vra pasiënte meestal raad oor dosering, newe-effekte, veilige stoor van medisyne en die gebruik van bykomende middels. Aptekers is dus nie net “verskaffers van pille” nie, maar ook raadgewers wat sorg dat medisyne veilig en doeltreffend gebruik word.
Gemeenskapsuitdagings
Finansies is een van die grootste struikelblokke in gesondheidsorg. Baie mense kan nie doktersbesoeke bekostig nie, of hul mediese fonds se voordele raak gou uitgeput. Hier speel aptekers ʼn kritieke rol deur bekostigbare alternatiewe, soos generiese plaasvervangings, aan te bied. “In veral afgeleë gebiede is die apteek soms die enigste bron van gesondheidsorg,” sê Maritz.
Elke gesprek oor medikasie, verduideliking oor hoe dit werk en luisterende oor vir ʼn bekommerde pasiënt, maak ʼn groot verskil wat jy dalk nie altyd onmiddellik besef nie. Jou werk verseker nie net gesonder mense nie, maar versterk ook vertroue en hoop in jou gemeenskap. En jy staan nie alleen in hierdie roeping nie – jy is deel van ʼn netwerk van aptekers wat dieselfde passie en toewyding deel.
Waardering vir aptekers
“Aptekers is onmisbaar en voeg ongelooflik baie waarde toe teen relatief min tariewe. Ons passie vir ons medemens is bekend, maar ons verdien egter baie meer erkenning,” sê Maritz. Apteekmaand bied juis die geleentheid om die nodige erkenning aan die eerste linie van ons gesondheidsorg te gee – nie net in ons kleiner gemeenskappe nie, maar ook om aptekers self te herinner aan die groot impak wat hulle maak.
Maritz het sy dank uitgespreek teenoor Zuid-Afrikaans Hospitaal vir die ondersteuning wat hulle aan die apteekspan bied. Hy voeg by dat enige persoon graag erkenning vir sy of haar werk wil hê, en aptekers is geen uitsondering nie. Of jy in kleinhandel, die privaat sektor, groothandel, vervaardiging of navorsing werk – jou rol is onmisbaar. Apteekmaand herinner die publiek, maar ook aptekers self, aan die groot waarde wat dié beroep tot die gemeenskap toevoeg.
Die Solidariteit Aptekersnetwerk – jóú steunpilaar
Die Solidariteit Aptekersnetwerk is ʼn waardevolle netwerk wat aptekers ondersteun en met mekaar verbind. Hierdie netwerk is nie net ʼn professionele gemeenskap nie, maar ook ʼn plek waar aptekers hul uitdagings en prestasies met mekaar kan deel. Solidariteit verstaan die unieke uitdagings wat hulle in die huidige werkomgewing in die gesondheidsorgbedryf ondervind, en ons is daarop toegespits om ʼn omgewing te skep wat aptekers se behoeftes en welsyn prioritiseer.
Aptekers is rentmeesters van gesondheid, draers van kennis en dikwels die eerste ligstraal van hoop vir pasiënte. In September wil ons dus graag elke apteker bedank vir die onmisbare rol wat hulle in ons gemeenskappe speel. Julle is die eerste linie en die Solidariteit Aptekersnetwerk staan bankvas agter julle.