loading
Artikels
1 week gelede
klientewerwing-bly-uitdagend-maar-jy-hoef-dit-nie-alleen-te-hanteer-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Kliëntewerwing bly uitdagend, maar jy hoef dit nie alleen te hanteer nie

Deur Leré Nel

Vir baie entrepreneurs en sake-eienaars is kliëntewerwing een van die grootste struikelblokke in hul ondernemings. Jy kan die beste produk of diens hê, maar sonder die regte “leads” is groei moeilik en soms selfs oorlewing.

Durandt Serfontein, besigheidsontwikkelingsbestuurder en finansiële beplanner by Blignaut Blouster, deel sy insigte oor hoekom hierdie uitdaging só algemeen is en hoe jy dit prakties kan aanpak.

Hoekom sukkel besigheidseienaars met “leads”?

“Ek wil eerstens vir elke leser wat met die probleem sit laat weet dat jy nie alleen is nie,” sê Serfontein. “Die meeste besigheidseienaars en entrepreneurs sit met hierdie uitdaging. Ek glo bloot dit is omdat ons, soos wat ons in Ekonomie 101 op universiteit geleer het, met onbeperkte behoeftes en beperkte hulpbronne sit. Daar is egter ʼn verskil in of jy sukkel om ‘leads’ te genereer omdat jy nie kop bo water hou nie en of dit is omdat jy graag wil groei,” verduidelik hy.

Hy wys daarop dat die probleem dikwels nie by jou werwingstrategie lê nie, maar by die besigheid self. “Volgens statistiek vou 42% van nuwe besighede omdat daar bloot nie ʼn mark vir die besigheid is nie. Nuwe besighede wil dikwels oplossings bied waar daar nie werklik probleme is nie. Dus is dit dikwels nie die proses waarop besighede ‘leads’ soek wat die probleem is nie, maar die feit dat daar nie noodwendig ʼn mark is vir die probleem wat jou besigheid wil oplos nie.”

Praktiese stappe om kliëntewerwing te verbeter

Serfontein bied ʼn paar wenke wat jou kan help om jou kliëntewerwingsprobleme op te los.

  • Ken jou aanbod: “Begin deur ʼn spyskaart van jou dienste op te stel. Dit is ʼn eenvoudige uiteensetting van die produkte en dienste wat jy bied. Dit sal help dat kliënte duideliker verstaan watter oplossings jy bied en dit sal jou help om met meer oortuiging die waarde wat jy toevoeg uit te beeld.”
  • Definieer jou ideale kliënt: “Besighede gebruik dikwels die ‘haelgeweermetode’ om kliënte te werf. Dit lei daartoe dat jy nie regtig vir enige spesifieke markgroep bemark nie.” Serfontein verduidelik dat verbruikers deesdae baie oorgestimuleer word. In hulle daaglikse lewe word hulle van alle kante af met bemarkingsmateriaal gebombardeer. As jy enigsins uniek wil wees, moet jy meer spesifiek en teikengerig bemark.
  • Gebruik jou sterkpunte: “Dit is ook belangrik om te identifiseer wat jou onderskei van ander mense in jou mark. Jou kliënte en moontlike kliënte kan baie vinnig agterkom wanneer jy voorgee of probeer om beter voor te kom as wat jy is. Dus stel ek voor dat jy weet wat jou besigheid se sterkpunte is, en daarop fokus.”
  • Bou verhoudings: “Mense doen besigheid met mense – nie besighede nie. Jou kliënte raak een van jou beste bemarkers en deur jou netwerk te bou, bekom jy nuwe markgroepe. Ons as Afrikaners is gefokus op verhoudings en as daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat ons mekaar probeer help en bevorder waar daar ʼn verhouding gevestig is in dieselfde waardestelsel.”

Jy hoef dit nie alleen te doen nie

Soos Serfontein verduidelik, is kliëntewerwing nie net ’n kwessie van harde werk nie – dit verg die regte strategie. Die goeie nuus is dat jy dit nie op jou eie hoef te doen nie. Wanneer jy deel word van die Solidariteit Finansiesnetwerk, kry jy toegang tot ʼn hele netwerk van ander mense in jou bedryf wat hierdie uitdagings verstaan, self al daarmee gesukkel het, en bereid is om jou te help.

Bly dus ingeskakel by jou netwerk, en kontak finnetwerk@solidariteit.co.za vir bystand in jou beroep.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel