loading
Artikels
1 week gelede
stuurwiel-entrepreneurskap-in-die-vinnige-baan

Foto Krediet: Unsplash

Stuurwiel: Entrepreneurskap in die vinnige baan

Deur Leré Nel

Wanneer ʼn nuwe besigheid op die pad gesit word, is dit selde ’n maklike rit. Só vertel Francois Smit, medestigter van Stuurwiel, die eerste Afrikaanse aanlyn voertuig koop-en-verkoopplatform wat deur ChangeCars aangedryf word. Stuurwiel is nog jonk, maar het reeds ʼn unieke plek in die mark begin inneem: ʼn ruimte waar betroubare motorhandelaars en kliënte mekaar in Afrikaans kan ontmoet.

Die ontstaan van Stuurwiel

Die storie begin by ChangeCars – ʼn gevestigde webtuiste waar motorhandelaars hulle voertuie adverteer, soortgelyk aan bekende platforms soos AutoTrader en Cars.co.za. Francois Smit en sy vennoot, Michael Pashut, het egter ʼn gaping in die mark gesien: daar was nog nie ’n soortgelyke platform in Afrikaans nie. Dit het die visie en doelwit van Stuurwiel geword – skep ʼn plek waar Afrikaanse motorliefhebbers gemaklik, in hul eie taal, motors kan koop en verkoop, sonder die vrees vir bedrog of onbetroubare handelaars.

“Stuurwiel is basies ʼn kloon van ChangeCars, maar heeltemal in Afrikaans. Die feit dat dit in jou taal is, maak die koopproses van karre gemaklik en ontspanne,” vertel Smit.

Die belonings en uitdagings gedurende die begin van dié besigheid

Soos met enige nuwe onderneming was daar hoogte- en laagtepunte. Vir Smit was die grootste uitdaging geduld: “As jy passievol is oor iets en dit kom nie so gou aan die gang soos jy wou hê nie, is dit moeilik om nie ongeduldig te raak nie.” Hy vertel dat dinge dikwels langer neem as wat ʼn mens sou verwag – byvoorbeeld die taalversorging van so ʼn groot platform.

Tog is dit juis die uitdagings wat die sukses so bevredigend maak. Die grootste beloning, sê Smit, is om die syfers van handelaars wat aansluit te sien groei en die terugvoer van gelukkige kliënte te ontvang. “Dit is heerlik om ’n besigheid te bestuur as jy passievol is daaroor. Ek en Michael is beide kar-mal, en dit dra daartoe by dat elke suksesvolle transaksie vir ons soveel meer betekenisvol is.”

Wat maak Stuurwiel uniek?

Smit som dit eenvoudig op:

  1. 1. Dis in jou taal – alles op die platform is volledig Afrikaans.
  2. 2. Daar is slegs betroubare handelaars – handelaars wat klagtes ignoreer, word eenvoudig verwyder.
  3. 3. Veiligheid eerste – kliënte word beskerm teen bedrog en swendelary (“scams”).
  4. 4. Bykomende waarde – goeie versekeringsopsies, advies, inligting en bystand vorm deel van die diens.

Daarby is daar groot planne vir die toekoms: ʼn Stuurwiel-podcast en selfs ʼn TV-reeks wat motorliefhebbers in Afrikaans kan geniet.

Die krag van ’n netwerk

Agter elke entrepreneur staan ’n netwerk wat die wiele draai. Vir Smit en Stuurwiel is ChangeCars en sy bestaande infrastruktuur ’n belangrike deel van hierdie ondersteuningsraamwerk. Met meer as 800 handelaars reeds op ChangeCars, word verwag dat sowat 200 binnekort ook op Stuurwiel gaan adverteer. Boonop bring die TV-program All Things Motoring International (kanaal 189 op DStv) ook verkeer na die platform.

Vir ʼn jong onderneming soos Stuurwiel is sulke netwerke van onskatbare waarde.

Raad aan ander entrepreneurs

Smit se raad aan ander wat ʼn nuwe onderneming oorweeg, is eenvoudig: “Jy moet ʼn liefde hê vir jou besigheid. Dit help nie om dit te doen net omdat dit lyk na ʼn goeie finansiële vooruitsig nie. Jy móét ʼn liefde daarvoor hê.”

Dit is hierdie passie, gekombineer met ’n sterk netwerk en ’n duidelike visie, wat Stuurwiel help om spoed te kry – en wat ander entrepreneurs kan inspireer om dieselfde te doen.

Vir meer interessante brokkies nuus oor jou bedryf en opkomende besighede, bly ingeskakel by die Solidariteit Finansiesnetwerk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel