loading
Artikels
1 week gelede
meesterskantore-in-krisis-solidariteit-eis-dringende-ingryping

Foto Krediet: OkayDeer

Meesterskantore in krisis – Solidariteit eis dringende ingryping

Deur Leré Nel

Die toestand van die hooggeregshof van Suid-Afrika se meesterskantore is ʼn bron van nasionale kommer. Waar hierdie kantore die ruggraat van boedeladministrasie en ander regsprosesse behoort te wees, word dit deesdae dikwels met onverklaarbare vertragings, swak dienslewering en ʼn gebrek aan deursigtigheid geassosieer. Solidariteit se Regsnetwerk het daarom ʼn formele skrywe aan die owerhede gerig en dringende opgetree geëis.

Ernstige uitdagings by meesterskantore

Solidariteit Regsnetwerk-lede en regspraktisyns oor die land meld toenemende probleme in hul interaksie met die kantore van die meester van die hooggeregshof. Die grootste knelpunte sluit in:

  • Uitgerekte vertragings: Boedelprosesse en ander administratiewe sake lê soms vir maande, of selfs jare, onvoltooid, wat groot finansiële en emosionele druk op kliënte plaas.
  • Swak kommunikasie: Samewerking en terugvoer aan regspraktisyns is dikwels gebrekkig, wat tot wantroue en koördinasieprobleme lei.
  • Tekort aan personeel: Die kompleksiteit en volume van sake vereis voldoende en gekwalifiseerde personeel, maar dit is skaars.
  • Gebrekkige tegnologie: Moderne digitale stelsels en outomatisering ontbreek, wat prosesse onnodig vertraag en foute laat insluip.
  • Swak infrastruktuur: By sommige kantore, soos in Johannesburg, is selfs die fisiese toestand van geboue kommerwekkend.

Volgens Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, raak hierdie probleme nie net die werk van regspraktisyns nie, maar beïnvloed dit direk die regte en belange van gewone Suid-Afrikaners wat op tydige en regverdige administrasie van hul sake staatmaak.

Solidariteit se eise en aanbevelings

In die skrywe aan die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, die minister van handel, nywerheid en mededinging, die meester van die hooggeregshof en die hoofregter, Mandisa Maya, stel Solidariteit ʼn reeks stappe voor om dié situasie te verbeter:

  • • Onmiddellike aanstelling van voldoende gekwalifiseerde personeel om die agterstande weg te werk.
  • • Duidelike prosedures en kommunikasieprotokolle om samewerking met regspraktisyns te herstel.
  • • Die implementering van digitale tegnologie en outomatisering vir vinniger, deursigtige en foutvrye prosesse.
  • • ʼn Verbintenis tot gereelde monitering en verslagdoening oor dienslewering by meesterskantore.

Volgens Glas is hierdie hervormings nie onderhandelbaar nie: “Solidariteit verwag van die owerhede om hierdie kwessies met dringendheid te hanteer en die nodige strukturele verbeterings aan te bring.”

Die Regsnetwerk se waghondrol

Die Solidariteit Regsnetwerk vervul die rol van ʼn waghond oor die beroep – om toe te sien dat die regte van sy lede en die breër publiek beskerm word. ʼn Regstelsel kan slegs sy doel dien as dit doeltreffend, deursigtig en regverdig funksioneer. Wanneer kerninstellings, soos die meesterskantore, nie hul mandaat nakom nie, is dit die verantwoordelikheid van burgerlike organisasies om druk uit te oefen en verandering te eis.

Deur hierdie saak aan te spreek, bevestig die Regsnetwerk sy verbintenis tot ʼn regstelsel wat in die belang van alle Suid-Afrikaners werk. Een wat reg en geregtigheid nie vertraag of verhoed nie, maar beskerm en bevorder.

Bly ingeskakel by die Solidariteit Regsnetwerk om ingelig te bly oor sake wat jou beroep raak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel