
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Testamentweek: ʼn Bemarkingsgeleentheid vir jou firma
Testamentweek vind vanjaar plaas tydens 15 en 19 September. Vir baie Suid-Afrikaners bly ʼn testament ʼn vae en onbekende konsep. Die meeste Suid-Afrikaners het nie eens ʼn testament nie. Juis daarom het die inisiatief van die Regsgenootskap van Suid-Afrika, Testamentweek, oor die jare groot momentum opgebou. Direkteur en prokureur by WF Bouwer Prokureurs, Francois Bouwer, beklemtoon dat hierdie week nie net ʼn bewusmakingsgeleentheid is nie, maar ook ʼn strategiese geleentheid wat prokureurs slim kan benut – mits dit reg hanteer word.
Uit ʼn sake-oogpunt
Volgens Bouwer bied Testamentweek prokureurs die unieke geleentheid om die waarde van hul dienste aan die publiek sigbaar te maak. “Dit is die een week in die jaar waarin jy jou praktyk kan posisioneer as ʼn gemeenskapsvennoot en kan bemark dat jy gratis dienste lewer,” verduidelik hy. By WF Bouwer Prokureurs word testamente gedurende dié week gratis vir kliënte opgestel.
Bouwer waarsku egter ander firmas wat dalk dieselfde wil doen teen ʼn “aframmel”-benadering: “Net omdat jy ʼn gratis diens lewer, beteken nie dat jy kan kopieër-en-plak en min of meer dieselfde ding vir almal gee nie. Jy moet nog steeds die moeite doen om saam met jou kliënt te sit en gesels, hul omstandighede te verstaan, ten einde die testament behoorlik op te stel en hul boedel goed te beplan.” Bouwer vertel dat daar dikwels ʼn volgehoue kliënteverhouding uit hierdie gratis diens voortspruit, veral omdat die kliënt se boedel dikwels te groot is en dit dus verdere boedelbeplanning vereis.
ʼn Paar dinge om in gedagte te hou
1. Moenie net testamente opstel nie, maar hersien ook bestaande testamente.
Die tweede doel van Testamentweek is om jou kliënte se bestaande testamente te hersien. Wetgewing verander en kliënte se omstandighede verander ook. Hulle het dalk getrou, geskei, ʼn kind gekry of ʼn gade of erfgenaam verloor. Bouwer beklemtoon dat dit jou verantwoordelikheid is om seker te maak die kliënt se testament weerspieël hul huidige realiteit en laaste wense, én dat dit in lyn is met huidige toepaslike wetgewing.
2. Hou tred met veranderende wetgewing
Wetgewing rondom boedel- en familiereg verander gereeld. Prokureurs wat nie op hoogte bly nie loop die risiko dat hul testamente aangeveg word of dat kliënte aan onderhoudseise ná die dood van die testateur/testatrise blootgestel word.
3. Duidelikheid en eenvoud is belangrik
Bouwer verkies om testamente so eenvoudig as moontlik te hou. Vaagheid in bewoording is ʼn resep vir ongewenste litigasie.
4. Kompleksiteite in boedelbeplanning
- Bates in die buiteland: Neem die betrokke land se wetgewing in ag, veral by vaste eiendom.
- Huwelikstatus: Maak seker jou kliënt se status is korrek op alle platforms, en voorsien in moontlike scenario’s (bv. in die geval van ʼn tweede huwelik) om latere ongewenste onderhoudseise te voorkom.
- Testamentêre trusts: Ken die wetgewing en formuleer die klousules sonder ruimte vir misinterpretasie.
- Belasting: Verwys groot boedels met belastingimplikasies na ʼn belastingkundige – dit beskerm jou kliënt én jou eie professionele reputasie.
5. Lewende testamente en aanhangsels
ʼn Lewende testament kan as ʼn aanvullende dokument aan kliënte voorgestel word, indien hulle belangstel. Dit is ook nuttig om ʼn aanhangsel in die testament te heg met die besonderhede van rolspelers soos die kliënt se boekhouer, makelaar, bankier en erfgename. Dit bespoedig die administrasieproses ná afsterwe.
Testamentweek is nie net ʼn bewusmakingsveldtog vir die publiek nie, maar ook ʼn professionele toets vir prokureurs. Dit bied die kans om jou rol as regsadviseur te bevestig. Soos Bouwer dit stel: “As jy Testamentweek reg aanpak, is dit nie net ʼn gratis diens wat jy lewer nie, maar ʼn belegging in jou praktyk se reputasie en in jou kliënt se toekoms.”
Bly ingeskakel by die Solidariteit Regsnetwerk vir nog interessante inligting oor jou beroep.