loading
avatar
Artikels
2 jaar gelede
bankkosteverslag-bevind-banke-raak-al-meer-mededingend-en-deursigtig

Foto Krediet: Pexels

Bankkosteverslag bevind banke raak al meer mededingend en deursigtig

Deur Nico Strydom

Die impak wat die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se bankkosteverslag van 2024 op die bankwese in Suid-Afrika het, is duideliker as ooit tevore.

Benewens die toenemende mededinging tussen banke wat hierdie verslag meebring, is dit ook duidelik dat banke toenemend deursigtig word oor hulle bankkoste.

“Dit is skielik vir verbruikers moontlik om in ons verslag te sien hoe die verskillende banke se koste direk met mekaar vergelyk word,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI. “Die verslag maak dit baie duidelik as een bank baie duurder as ʼn ander een is en dit noop die banke om meer mededingend te word om kliënte te behou.”

Die SNI se jaarlikse bankkosteverslag, wat al vir langer as 10 jaar opgestel word, ontleed slegs gewone transaksieprofiele – rekeninge wat vir enige lid van die publiek beskikbaar is. “Verbruikers moet daarom seker maak dat hulle weet waarvoor hulle alles betaal en probeer om so veel as moontlik waarde uit hulle pakkette te kry. Hulle moet ook seker maak dit is gepas vir hul spesifieke behoeftes en doelwitte.”

Die verslag is vanjaar suiwer op bankkoste ingestel, eerder as om ander toegevoegde waarde te vergelyk. Die vyf banke wat die kern van die bankkosteverslag vorm, is oudergewoonte Absa, FNB, Standard Bank, Nedbank en Capitec, met Tymebank en Bank Zero wat ook in die aanlyn kategorie ingesluit word.

Soos in die verlede is die transaksierekeninge saamgestel aan die hand van riglyne wat ooreenstem met die besparingswenke wat banke op hulle webwerwe en in promosiemateriaal verskaf. Hierdie riglyne sluit in: min kontantonttrekkings en geen kontantdeposito’s nie; min of geen kontant by kitsbanke nie, eerder by winkeltoonbanke; geen fisiese besoeke aan ʼn tak nie, eerder internetbankdienste; waar aankope, soos lugtydaankope, gedoen word, word dit via aanlyn platforms soos die bank se selfoontoepassing gedoen; en die gebruik van selfoontoepassingkennisgewings eerder as SMS-kennisgewings, sowel as e-pos eerder as SMS-kennisgewings wanneer dit aan begunstigdes gestuur word.

Hierna volg ʼn vergelyking van die maandelikse bankkoste van verbruikers met verskillende verbruikersprofiele, by verskillende banke en met ʼn transaksierekening wat die geskikste is vir die profiel. Die rekeninge en opsies wat in die verslag gedek word, is opgedeel in die volgende vier kategorieë:

Rekeninge wat bemark word aan mense met ʼn lae inkomste en taamlik basiese bankbehoeftes (profiele met 12 en 17 transaksies per maand):

Vir verbruikers met basiese bankbehoeftes kraai FNB se Easy PAYU-rekening vanjaar weer koning in beide die 12- en 17-transaksiemandjie.

Grafiek: Solidariteit
Grafiek: Solidariteit

Rekeninge wat, ongeag hoe dit bemark word, slegs vir aanlyn transaksies gebruik word (14 kontantvrye en kontakvrye transaksies):

Die verslag het bevind dat kliënte wat geen behoefte aan takke en uitgebreide bankdienste het nie, verreweg die beste waarde by die aanlyn banke soos Tymebank en Bank Zero kry.

Grafiek: Solidariteit

“Om die 14 transaksies in ons mandjie by hierdie banke te doen, kos onderskeidelik R14 en R17, terwyl dit by die naaste mededinger onder die tradisionele banke R41,25 sou kos.

“Hulle sluit eenvoudig meer gratis transaksies as enige van hul mededingers in. Waar dit lyk of ander banke besluit het om nie meer so aggressief aan die lae-inkomstemarksegment te bemark nie, staan FNB duidelik steeds reg om rekeninge aan almal te bied,” sê Du Buisson.

Rekeninge wat bemark word aan mense met ʼn middelklasinkomste en gesofistikeerde bankbehoeftes (profiele met 25 transaksies per maand):

Ook in die middelinkomsteprofiel, met ʼn mandjie van 25 transaksies, is FNB se Fusion Aspire-rekening die wenner. Die maandelikse fooi van R99 sluit al die transaksies in ons mandjie in, buiten die aankoop van elektrisiteit. Capitec is in die tweede plek, maar kan nie werklik in hierdie kategorie meeding nie omdat dit nie noemenswaardige ekstra waarde soos ʼn uitgebreide beloningsprogram bied nie. As Capitec buite rekening gelaat word, is Nedbank in die tweede plek, veral omdat alle transaksies in ons mandjie in hul maandelikse bedrag van R109 ingesluit word.

Grafiek: Solidariteit

Rekeninge wat bemark word aan mense met ʼn hoërmiddelklasinkomste en gesofistikeerde bankbehoeftes (profiele met 30 transaksies per maand):

Vir verbruikers met gesofistikeerde bankbehoeftes is Nedbank se Migoals Premium-rekening die goedkoopste, met ʼn totale koste van R240 teenoor FNB se Fusion Premier-rekening wat R247 per maand sou kos vir die 30 transaksies in ons mandjie.

Grafiek: Solidariteit

“Nedbank het duidelik geleer uit FNB se oorwinning in 2023 deurdat hulle vanjaar die meeste gratis transaksies by die maandelikse fooi insluit. So kon hulle vanjaar die goedkoopste in hierdie kategorie wees, en ook uiters mededingend wees in die kategorie vir middelklas-inkomsterekeninge, en dit terwyl hulle verlede jaar die heel duurste was. Vernuwing in die bankwese is dus moontlik.”

Solidariteit bemagtig jou met inligting. Deur die SNI se deeglike en geloofwaardige navorsing bemagtig ons jou met goed nagevorste verslae, beroepspesifieke ontledings en gidse wat jou help om jou weg suksesvol te baan.

Klik hier om die SNI se volledige bankkosteverslag van 2024 te lees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie