
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Daar ís ʼn toekoms vir wit jong mense in Suid-Afrika
Daar ís ʼn blink toekoms vir wit jong mense in Suid-Afrika, veral vir dié wat bereid is om op te offer en in goeie onderwys en opleiding te belê. Solidariteit ondersteun sy lede om hul vaardighede te ontwikkel en volhoubare werk te vind, en bied ʼn platform vir voortgesette leer en loopbaanontwikkeling. Lees hier meer!
7,9% – dít is hoeveel wit jong mense tans werkloos is. Dit is die laagste werkloosheidsyfer onder alle rassegroepe in die land en kan toegeskryf word aan die goeie onderwys wat baie wit jong mense in Suid-Afrika ontvang. Daar is ʼn groot toekoms vir opgeleide jong mense in Suid-Afrika en daarom is dit belangrik om nie moedeloos te wees oor die toekoms nie. Gewapen met ʼn goeie kwalifikasie, is jou kanse baie beter om ʼn werk te kry.
Suid-Afrika het ʼn geweldige tekort aan opgeleide mense – van alle rasse. Hierdie tekort is só groot dat werkgewers dit as een van hulle heel grootste probleme beskou. Ten spyte van die hoë werkloosheidsyfer is daar talle vakante poste wat nie gevul kan word nie, omdat daar nie genoeg opgeleide mense is nie.
Die onderwys- en opleidingstelsel
Ongelukkig is nagenoeg 80% van die openbare skole in Suid-Afrika in ʼn swak toestand, wat veroorsaak dat die meeste leerders nie goed genoeg opgelei word om werk te kan kry nie. Daar is wel verskeie onderwysinstellings in Suid-Afrika – en veral Afrikaanse onderwysinstellings soos Akademia en Sol-Tech – wat uitstekende opleiding bied. Daar is dus goeie geleenthede vir jong mense om ʼn kwalifikasie te bekom en sodoende ʼn blink toekoms te hê. Die toekomspad is oop vir jong mense wat werklik bereid is om op te offer en ʼn goeie opleiding te verkry.
Die waarde van opleiding
Jong gekwalifiseerde mense moenie bang wees om onder te begin nie – net ʼn grafgrawer begin bo! Dit is belangrik om ervaring op te doen terwyl jy studeer, en dit is soms nodig om onder aan die leer te begin wanneer jy klaar studeer het. Dit is moeilik om sonder ervaring ʼn goeie pos by ʼn goeie werkgewer te kry, maar as jy jouself bewys, kan jy soos ʼn kurkprop boontoe skiet.
Alhoewel daar ʼn krisis in opleiding onder swart jong mense is, is dit ook kommerwekkend dat wit jong mense steeds nie genoeg in onderwys belê nie. Statistieke toon dat ongeveer 45% van Suid-Afrikaanse leerders die skool verlaat voordat hulle matriek behaal en ʼn verdere derde slaag sonder universiteitstoelating. Volgens Statistiek Suid-Afrika se 2021-verslag is daar slegs 15,6% wit jong mense tussen die ouderdom van 18 en 29 wat universiteit toe gaan.
Natuurlik is dit verstaanbaar dat dit duur is om te studeer, óf dat mense ver van universiteite af woon, óf dat jou ouers miskien nie studeer het nie en dat jy moontlik dink jy is nie daarvoor uitgeknip nie. Niks in die lewe wat die moeite werd is, kom verniet of maklik nie.
Opleiding bly steeds die beste belegging wat jy in jou eie toekoms kan maak. Moet dus nie bang wees om deeltyds te werk terwyl jy studeer of deeltyds te studeer terwyl jy werk nie. As jy jou werk geniet, word die leer lekker! Berei jouself voor vir lewenslange leer, want kennis verouder deesdae blitsig.
Solidariteit is daartoe verbind om sy lede te ondersteun met die ontwikkeling van hul vaardighede en vermoëns, sodat hulle ʼn goeie werk kan bekom nie. Solidariteit bied talle verskillende kursusse, e-leer-aanbiedinge en ook webinare aan wat lede kan benut om nuwe vaardighede aan te leer wat hulle die hupstoot kan gee om hulle loopbaan tot die volgende vlak te neem.
Tweede beste
Ons voorouers het ʼn leidende rol gespeel om Suid-Afrika die voorste staat op die vasteland te maak. Nou is dit óns beurt. Om sukses te behaal, moet jy egter nooit tevrede wees met tweede beste nie – veral nie van jouself nie! Jy studeer lankal nie meer vir ʼn onderwyser of jou ouers nie – jy werk aan jou eie toekoms. As jy nie die beste vir jouself gee en gun nie, gaan niemand anders dit doen nie.
Solidariteit glo elkeen wat wíl werk, móét kan werk en daarom bring ons ʼn vars en opwindende uitkyk op die werksoekproses. Of dit nou vakansiewerk vir studente of ʼn voltydse werksgeleentheid vir ʼn professionele persoon is, danksy werkfasilitering bied Solidariteit ʼn volhoubare oplossing.
Gebruik jou talente, leer vir ʼn tersiêre kwalifikasie en vervul jou roeping. Suid-Afrika bied ʼn toekoms vir dié wat bereid is om opofferings te maak en werk aan hul eie sukses. Solidariteit is jóú loopbaanvennoot en wil verseker dat jy jou volle potensiaal bereik. Of jy nou ʼn skolier, student, jong werkende of selfs ʼn kenner in jou beroep is, Solidariteit bied iets vir almal.
Skep vandag nog vir jou ʼn gratis profiel op Solidariteit en word deel van ʼn gemeenskap wat bou aan ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms, want #JyHoortHier.
Flip Buys