
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die hart van die Vrystaat: landbou en geloof in harmonie
Deur Johan Barnes
As deel van ʼn landbou-organiseerder se pligte moet ons jaarliks na die onderskeie landbou-takke in die Vrystaat reis waar ons met ons Solidariteit-lede gesels. Ons het in 2023 en onlangs weer deur die klein dorpe van die Vrystaat gereis en die ervaring was meer verrykend as voorheen. Die Vrystaat-streek is bekend vir sy uitgerekte plase en speel ʼn belangrike rol in die land se voedselproduksie. Ons reis deur die Vrystaat het vir ons ʼn interessante mengsel van insigte gegee aangaande landbou en die diepgewortelde geloof van sy klein gemeenskappe.
Terwyl ons oor die Vrystaatse vlaktes en deur die dorpe gereis het, het een opvallende waarneming na vore gekom: die goeie instandhouding van plaaslike kerke te midde van die dorpe wat ongelukkig ooglopende tekens van verval toon. Dit was ongelooflik om te kon sien hoe kontrasterend die goed onderhoude kerkterreine uitgestaan het teenoor die omliggende infrastruktuur in die dorpe.
Aanvanklik het ek en my kollega net die mooi kerkgeboue waargeneem, maar later het ons besef dat dit ʼn dieper refleksie oor die verhouding tussen landbou en geloof in die Vrystaat simboliseer. Dit is baie duidelik dat godsdiens hier nie net ʼn persoonlike oortuiging is nie, maar die hoeksteen van die daaglikse lewe van die plaaslike inwoners en boere is. Dit is alombekend dat kerkgeboue oor die algemeen van die oudste geboue in ʼn dorp is en hierdie waarneming oor die kerke beklemtoon die kerk se verteenwoordiging van die gemeenskap en erfenis.
Wanneer ons na landbou in die Vrystaat kyk, is dit duidelik dat dit nie noodwendig net ʼn ekonomiese aktiwiteit is nie, maar ʼn lewenswyse wat die waardes en tradisies van sy mense uitbeeld. Wanneer ons kyk na die geloof en toewyding van die boere is dit duidelik dat om te boer nie noodwendig net ʼn bestaansmanier is nie. Die verband tussen die onderhoud van kerke en die volharding van die boere is duidelik. In hierdie dorpe leef geloof en landbou nie net saam nie; hulle versterk mekaar.
Deesdae is die kerke op die platteland nie net meer ʼn plek van aanbidding nie, maar ʼn simbool van gemeenskap en ondersteuning. Die kerke is ʼn plek waar die boere bymekaar kan kom en spontaan hul uitdagings kan deel, hul suksesse kan vier en troos kan vind in moeilike tye. Die Vrystaat gaan jaarliks gebuk onder moeilike ekonomiese omstandighede en ervaar ernstige omgewingsuitdagings. In uitdagende tye is die kerk dus ʼn bron van krag vir die gemeenskap.






Alhoewel die dorpe se infrastruktuur agteruitgaan, kan ons nie verby die feit kyk dat die kerke se goed onderhoude voorkoms die veerkragtigheid van die landbougemeenskappe weerspieël nie. Die dorpe mag dalk hul probleme hê, maar die toewyding aan die instandhouding van hul kerke is ʼn duidelike aanduiding van hoe sterk landbougemeenskappe se geloof is en hoe ons steeds kan uitsien na die toekoms.
Ons reis deur die Vrystaat het maar net weer bevestig wat ons reeds weet: landbou en geloof is die hoekstene wat klein plaaslike gemeenskappe versterk. Die onderhoud van die kerke is ʼn voorbeeld hiervan en beklemtoon hoeveel toewyding daar steeds aan grond, geloof en erfenis is.
Na afloop van ons Vrystaatse besoek het ons sonder twyfel ʼn dieper waardering vir die interessante en verweefde verhouding tussen landbou en geloof in hierdie gebied ontwikkel. Die res van die land kan gerus ook by die Vrystaat leer. – ten spyte van teëspoed is die hart van die Vrystaat steeds lewendig en vol hoop.
Sluit aan by ons sektorgroep vir landbou op Solidariteit waar boere en werkers uit elke uithoek van die landboubedryf soos familie bymekaar kan kom. Deur deel te word van dié groep, kry jy toegang tot geselsforums waar ervare mense hul kennis deel, opleidingsgeleenthede waardeur jy kan groei, en mentorprogramme waardeur jy ander met jou ondervinding en kennis kan ondersteun. Boonop ontvang jy die jongste nuus, video’s en inligting oor werksgeleenthede. Skep jou gratis Solidariteit-profiel en word deel van ʼn gemeenskap wat saamwerk aan ʼn voorspoedige en gelukkige toekoms! #JyHoortHier!