
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Dissiplinêre verhore vir onderwysers: Wat jy moet weet
ʼn Dissiplinêre verhoor kan vir enige onderwyser intimiderend en oorweldigend wees. Die goeie nuus is dat jy nie alleen hoef te staan nie! Hier is ‘n oorsig van die dissiplinêre proses en hoe Solidariteit jou daarin kan ondersteun.
Deur Leré Nel
Dit is uiters belangrik vir enige onderwyser om die dissiplinêre verhoorproses en die reëls rondom dit te verstaan. Jy weet nooit wanneer jy of jou kollega hierdie kennis gaan benodig nie!
Wat is ‘n dissiplinêre verhoor?
‘n Dissiplinêre verhoor is ‘n formele proses wat deur die skool ingestel word om aantygings teen ‘n onderwyser te ondersoek en oor gepaste stappe te besluit. Dit is belangrik om te verstaan dat dissiplinêre verhore deur die skool self bestuur word en nie altyd die reg insluit om ‘n prokureur teenwoordig te hê nie. Dit beteken egter nie dat jy sonder ondersteuning moet wees nie!
Wat gebeur voor die verhoor?
Kennisgewing van die verhoor: Die skool is verplig om jou ten minste 48 uur voor die dissiplinêre verhoor skriftelik in kennis te stel daarvan. Hierdie kennisgewing moet die volgende bevat:
- die spesifieke klagte(s) teen jou
- datum, tyd en plek van die verhoor
- name van die betrokkenes wat teenwoordig gaan wees
- jou reg om ‘n verteenwoordiger of kollega saam te bring
Mag Solidariteit jou verteenwoordig?
Enige werkgewer is binne magte om sy/haar werknemers te dissiplineer. Daar is dus nie ʼn outomatiese reg op ʼn verteenwoordiger nie, maar die skool kan jou dit nie weier as jy dit skriftelik aanvra nie. Solidariteit kan jou verteenwoordig indien die vakbond kollektiewe regte binne die skool het. Indien nie, kan jy steeds skriftelik toestemming vra om ‘n verteenwoordiger by die verhoor te hê. Indien Solidariteit nie regte by jou skool het nie, is dit steeds wys om ‘n kollega as jou verteenwoordiger saam te neem. Dit kan jou help om kalm te bly en verseker dat prosedurele foute hanteer kan word.
Is dit nodig om ‘n verteenwoordiger te hê?
Hoewel dit nie verpligtend is nie, word dit sterk aanbeveel om iemand saam te neem, veral in gevalle van ernstige klagtes. ‘n Verteenwoordiger bied nie net regskennis en emosionele ondersteuning nie, maar help ook om ‘n sterker en duideliker verdediging te formuleer. Lees hier meer in diepte hieroor.
Hoe verloop die dissiplinêre verhoor?
Die voorsitter (gewoonlik ‘n onafhanklike persoon) verduidelik die proses en maak seker dat almal verstaan hoe die verhoor sal verloop. Daarna sal die werkgewer (skool) sy saak stel, insluitend bewyse en getuienis. Jy of jou verteenwoordiger sal die geleentheid kry om vrae te vra en jou kant van die saak te stel.
Jy het die reg om jou eie getuies te roep en bewysstukke voor te lê. Na afloop van die verrigtinge sal die voorsitter ‘n besluit neem en ‘n gepaste sanksie oplê indien nodig. Indien jy voel dat die proses onregverdig was, kan jy dit met jou vakbond opneem en, indien nodig, die saak na die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) of die ELRC (Opvoedings-arbeidsverhoudingeraad) verwys.
Skorsing: Wat nou?
As jy geskors word, onthou dat dit nie noodwendig ‘n straf is nie, maar eerder ‘n manier om die proses te beskerm. Maak seker jy verstaan die voorwaardes van jou skorsing en moenie kontak maak met enige kollegas indien dit verbied word nie. Kontak jou vakbond so gou as moontlik vir bystand.
Die belangrikheid van regshulp
Dissiplinêre verhore kan emosioneel en stresvol wees, maar met die regte ondersteuning kan jy die proses met selfvertroue aanpak. Solidariteit se Onderwysernetwerk is hier om jou by te staan met regsadvies en deeglike voorbereiding. Moet nooit huiwer om hulp te vra nie!
Kontak Solidariteit se Onderwysernetwerk vir enige vrae of bystand tydens dissiplinêre prosesse. Ons staan by jou!