Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Eer die God van die Gelofte
Deur Marné Pienaar
Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen dat, …
Afrikaners van regoor die wêreld kom vandag byeen om die Gelofte van ons voorouers, die Gelofte wat ons s’n geword het, te herdenk. Vir my en my familie is dit iets wat ons elke jaar doen, iets wat deel is van ons DNS. Dit is egter vir baie Afrikaners ʼn herdenking wat hulle dalk nie heeltemal verstaan nie. Lees gerus saam met my en herontdek die band tussen jou en jou voorouers want die Slag van Bloedrivier is die rede waarom ons vandag hier is en geloofsvryheid het om ons God in ons land te dien.
… as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee …
Ek probeer myself in hul skoene plaas – daardie 464 Voortrekkers wat in die pikdonker nag gesit en wag het, hul skoene nat en deurgetrap. Ek probeer die hart van hierdie manne verstaan wat, in totale afhanklikheid van God, Hom gesmeek het om hulle deur hierdie dal van doodskaduwee te lei.
Dit is dieselfde Voortrekkers wat in smartlike hopeloosheid hul weg moes vind ná die verskriklike gebeure wat die Slag van Bloedrivier voorafgegaan het. In een jaar het hulle al hul leiers verloor – eers is Piet Retief deur Dingane vermoor; daarna het Piet Uys en sy seun Dirkie tydens die lokval by Italeni gesneuwel, waarna Hendrik Potgieter die Vaalrivier oorgesteek het om Transvaal binne te trek. Ook Gerrit Maritz kom tot sterwe enkele maande voor die Slag van Bloedrivier.
Dit is dieselfde Voortrekkers wat kinders, ouers, eggenote, broers en susters aan die dood moes afstaan tydens etlike gruwelike aanvalle.
By die Slag van Bloukrans alleen is 185 kinders, 56 vroue, 41 mans en meer as 200 knegte wreedaardig in die nag gemartel en vermoor. Dit is geen wonder daar word na 1838 as ʼn bloedjaar verwys nie.
As ek so na die nuus luister, hoor hoe mense praat oor die jaar wat nou so op sy einde staan en kyk na wêreldgebeure, was 2025 vir almal ʼn verskriklike jaar. Geloftedag bring elke jaar vir ons opnuut die geleentheid om ons eie lewens in perspektief te stel en te herbesin oor wat regtig saak maak.
… ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag, soos ʼn Sabbat sal deurbring; en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, …
Ons Afrikaners is ʼn unieke volk. Ons is trotse, hardkoppige en gasvrye mense. Hierdie eienskappe is in ons ingebore, maar met elke generasie wat verbygaan, verloor ons ʼn deel van ons identiteit. Van ʼn kleurvolle volkspele-en-jukskei-volk, weet ons kinders vandag nie waarom ons die Gelofte herdenk nie en is “kultuur” afgewater tot rugby en melktert.
Dinge is egter aan die verander, voel ek – ook internasionaal. Met die sluipmoord op Charlie Kirk het die wêreld tot ʼn mate wakker geskrik. Ons sien hoe kerke weer vol word. Ons sien hoe mense weer hul identiteit en geloof omhels – eintlik, hul identiteit in Christus vind. Ons sien hoe bekendes openlik erken dat hulle Christene is. Dit gebeur nie net in Amerika nie. Charlie se dood het ons hier in Suid-Afrika net so diep geruk, ontnugter en geraak.
Charlie het, bo alles, ons Hemelse Vader en Jesus Christus gedien en geëer. Ek dink aan sy bekende aanhaling wat ná sy dood versprei is: “I want to be remembered for courage for my faith.” Dit is vir seker die einddoel wat ons almal moet nastreef. Ek glo die Voortrekkers het hierin geslaag.
Die oorwinning by Bloedrivier getuig van meer as een wonderwerk. Die Here se planne strek veel verder as wat ons ooit sal begryp, maar daardie oorwinning was nie net ʼn oorwinning vir die Voortrekkers nie; dit het die weg gebaan vir die toekoms van evangelisasie in donker Afrika. Die Geloftekerk, opgerig in Pietermaritzburg ná die Slag van Bloedrivier, staan in die hartjie van die dorp. Kyk in die ou dorpe – die kerke staan sentraal. So ook moet ons elkeen die Here sentraal in ons harte plaas.
… en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis, ook vir die opkomende geslagte.
Volgens Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), word Geloftedag by 226 Geloftefeeste herdenk. Van Pretoria, Kaapstad en Windhoek, al die pad tot Perth, Christchurch en Florida, kom ons kultuurgenote bymekaar om hierdie gedeelde geskiedenis wat deur ons are vloei, te onthou. Op hierdie manier kom die nageslag van dié wat die Gelofte gemaak het ook die beloftes van ons voorouers na: om die God van die Gelofte te eer en te verheerlik en die dag as ʼn Sabbatdag te herdenk.