
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
FlySafair weier dat KVBA help om geskil met vlieëniers op te los
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het aangebied om ingevolge artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) te help om die geskil tussen Solidariteit en FlySafair op te los.
Solidariteit het formeel tot die KVBA-proses ingestem, maar FlySafair het teen die einde van die naweek steeds geweier om daartoe in te stem. FlySafair het van vandag af begin om sy vlieëniers vir sewe dae uit te sluit, wat tot ontwrigting van vlugte kan lei.
Dit volg nadat 90% van FlySafair se vlieëniers ten gunste van ʼn staking gestem het. Solidariteit het kennis gegee dat die vlieëniers slegs vir ʼn dag gaan staak. FlySafair het egter teruggeslaan en die vlieëniers vir sewe dae uitgesluit. Dié uitsluiting kan daarna vir nóg ʼn week duur. Dit het Solidariteit gedwing om sy stakingskennisgewing ook na twee weke uit te brei in ooreenstemming met FlySafair se uitsluitingskennisgewing.
Ons verwelkom die ingryping van die KVBA. Die ontwrigting van ʼn lugredery is ʼn saak van nasionale belang. Sulke ontwrigting moet vermy word. Ons doel met ‘n kennisgewing vir ‘n staking van een dag was om FlySafair by die onderhandelingstafel te kry.
Ons was gereed om alles moontlik oor die naweek te doen om ontwrigting te verhoed en ʼn oplossing met behulp van die KVBA te vind. In plaas daarvan om na die tafel toe te kom, het FlySafair die ontwrigting geëskaleer deur die vlieëniers vir minstens sewe dae uit te sluit.
FlySafair volg ʼn aggressiewe sakestyl. FlySafair se bestuur dink blykbaar dat aggressie teenoor hul sleutelpersoneel ook gaan werk. Dit werk egter nie so met mense nie. As 90% van Solidariteit-lede ten gunste van ʼn staking stem, dan is daar groot fout. Die fout kan gesien word aan die aggressiewe manier waarop FlySafair hierdie geskil, maar ook die ander hangende geskil, naamlik dié oor die vlugrooster, met sy mense hanteer.
FlySafair sal vinnig moet leer dat sy eie werknemers, die publiek en die KVBA ten gunste van ʼn onderhandelde skikking is, want só gaan FlySafair se verhouding met sy vlieëniers herstel word en sy reputasieskade beperk word.
Sien die KVBA-dokument hier.
Sien ook FlySafair se kennisgewing hier.