
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Maatskaplike dienste moet nóú sonder staat kan oorleef en groei
Die beroepswêreld van maatskaplike werk, en diegene wat daarop staatmaak, beleef ʼn krisis wat tot elke prys oorkom moet word.
Deur skouer aan die wiel te sit, sal dié krisis nie noodlottig wees nie, het verskeie sprekers by die gesamentlike krisisberaad van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Helpende Hand beklemtoon. Die beraad het vandag in Centurion plaasgevind – doelbewus beplan om met Mandela-dag saam te val – met ʼn paneelleier wat ʼn simboliese 67 krisisse uitgelig het waarvoor oplossings dringend gevind moet word.
Hierdie beroepsveld word tans lamgelê deur vertragings in prosesse, asook leë beloftes, rassevooroordeel en enorme befondsingstekorte.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het aan die nagenoeg 300 maatskaplike werkers en verteenwoordigers van maatskaplike organisasies wat die beraad bygewoon het, beklemtoon hoe die huidige uitdagings nie in die toekoms hóéf te bestaan nie, mits die maatskaplike bedryf die volgende beginsel toepas: “Sélf as dit kan, met die staat as dit moet.”
Volgens Hermann lê daar onskatbare waarde opgesluit in die band wat ʼn maatskaplike netwerk bied.
“In die verlede het ons ons oog op die staat gerig, en was ons op horisontale vlak nie aan mekaar gebind nie. Ons moet ʼn maatskaplikewerkersnetwerk skep wat op ʼn sekere manier los is van die staat, maar waarvan die lede wel aan mekaar verbind is.”
Hermann het verder beklemtoon dat ʼn gebonde gemeenskap en kulturele entrepreneurskap benodig word om die volhoubaarheid van maatskaplike dienste te waarborg. Op hierdie manier word ʼn begrip van maatskaplike ondernemerskap begin en word ʼn kultuur van maatskaplike selfvertroue gevestig.
“Met maatskaplike selfvertroue kán ons ons roeping onafhanklik uitleef, en kan ons die edelheid van hierdie beroep herontdek,” het Hermann gesê.
Hermann het egter daarop gewys dat dit uiters belangrik is om nie noodwendig die staat se hulp in beginsel te weier nie, maar om eerder die versláwing aan die staat en sy agenda van die hand te wys.
“Ons moet die staat veel eerder verantwoordbaar hou en nie méér mag aan die staat gee as wat hom toekom nie.”
Helgard Cronjé het namens die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk die belang van saamwerk beklemtoon en genoem die netwerk word by die dag groter namate Solidariteit-lede, asook nie-lede, die waarde wat in gesamentlike krag lê besef.
“As Solidariteit kan ons aanhou veg teen die absolute staatsverval wat ons beleef, maar as gemeenskappe waarin groot maatskaplike probleme woed, sal ons moet dink aan alternatiewe om onafhanklik van die staat te kan funksioneer.”
“Ongelukkig het ʼn onbevoegde staat ons tot hier gebring, maar ons kan met ʼn nuwe denkwyse en ʼn gesindheid van kameraadskap ʼn daadwerklike verskil in die maatskaplike omgewing maak,” het Cronjé gesê.
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is Suid-Afrika se maatskaplike omgewing tans ʼn mynveld wat om hulp roep vir ingryping.
“Hierdie beraad is dus baie meer as net ʼn paar agendapunte. Dit is eerder ook die krag van ʼn gemeenskap wat ʼn agenda vorm. Daar is ʼn bestaans- en ʼn toekomskrisis wat verandering en verbetering anderkant die staat verg. Hierdie situasie gaan van maatskaplike werkers verg om hul denk- en werkswyse aan te pas om die sogenaamde “67 krisisse” wat op die beraad geïdentifiseer is, te kan takel,” sê Noëth.
Kennermenings van adv. Francois Botes en die maatskaplikewerk-spesialiste Marieta Kemp en Trienie Drotschie, het die beraadgangers gehelp om in groepsverband openlik oor hul uitdagings en oplossings te praat.
Ten slotte het Noëth die maatskaplike werkers aangemoedig om ten spyte van die owerhede se gebreke, gebonde vorentoe te werk en die beroep te beskerm. “Al word ons roeping nie noodwendig aan punte gemeet nie, werk ons saam aan ʼn beter toekoms!”