loading
Mediaverklarings
2 dae gelede
minagting-van-ras-skikking-minister-moet-in-die-hof-verskyn

Foto Krediet: Solidariteit

Minagting van ras-skikking: Minister móét in die hof verskyn

Die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, móét in November vanjaar in die arbeidshof verskyn om te verduidelik waarom sy ʼn hofbevel rakende raskwotas in die werkplek volstrek geminag het.
ʼn Minagtingsaansoek van Solidariteit het gelei tot hierdie tussentydse bevel, wat gister uitgereik is, waarvolgens minister Meth op 19 November in die Johannesburgse arbeidshof moet verskyn.
Solidariteit voer aan dat minister Meth se publikasie van rasregulasies in die Staatskoerant in April vanjaar in stryd is met die skikking wat die regering in Junie 2023 met Solidariteit bereik het. Dié skikking is in Oktober van daardie jaar as ʼn bevel van die hof verklaar.
Daarvolgens móét regstellende aksie tydelik wees en genuanseerd toegepas word. Geen werknemer mag as gevolg van regstellende aksie afgedank word nie en ander faktore as ras moet ook in ag geneem word wanneer aanstellings gemaak word.
Geen van hierdie bepalings is in die regulasies vervat wat minister Meth in April uitgereik het nie. 
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, moet die minister tot verantwoording geroep word vir hierdie weiering om by ʼn ooreenkoms te hou. 
“Hierdie is kenmerkend van ʼn regering wat homself eenvoudig bo die reg ag en hom ook nie aan hofbevele steur nie. Daarom sê ons dit is blatante minagting van die hof, en dit is ʼn goeie ding dat die minister gedwing word om haarself te verduidelik.”
“As sy nie ʼn verduideliking kan gee nie, of as sy nie opdaag nie, sal sy skuldig wees aan minagting van die hof,” sê Van der Bijl.
Gegewe minister Meth se onlangse uitsprake in die Nasionale Vergadering dat transformasie in mense se kele afgedruk gaan word, betwyfel Solidariteit of sy hierdie bevel op ʼn eerbare wyse sal benader. 
Solidariteit gaan egter nie die saak laat vaar nie en wil hê die regering moet weet dit gaan enduit beveg word.

Sien die uitspraak hier aangeheg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel