
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
My kind brand uit; hoe kan ek ondersteuning bied?
Deur Karen Waldeck
Met die einde van die akademiese jaar in sig, is daar een ding wat menige ouers en kinders se lewens oorheers: uitbranding. Uitbranding is nie net ʼn toestand wat volwassenes affekteer nie. Studente, veral dié op universiteit, loop ʼn groot risiko om die impak van intense stres en uitputting te ervaar. Hoe kan jy as ouer jou kind ondersteun en help om hierdie moeilike tyd deur te kom?
Wat is uitbranding en hoe kan jy dit vroegtydig agterkom?
Uitbranding is meer as net moegheid. Dit is ʼn toestand van fisiese, emosionele en geestelike uitputting wat deur langdurige stres veroorsaak word. Dit kan manifesteer as lusteloosheid, konsentrasie probleme en selfs depressie. Jou kind kan begin kla oor hoofpyne, maagprobleme of ʼn gebrek aan motivering. Dalk sien jy dat hul punte begin val of dat hulle nie meer belangstel in aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het nie.
As jy enige van hierdie tekens sien, is dit belangrik om dit nie af te maak as gewone ‘tienerprobleme’ nie. Uitbranding is ʼn ernstige saak en kan langtermyngevolge inhou as dit nie vroegtydig aangespreek word nie.
Hoe kan jy jou kind ondersteun?
Oop kommunikasie is die sleutel:
Die eerste stap is om ʼn oop en eerlike gesprek met jou kind te hê. Vra hoe hulle voel en luister na hul bekommernisse. Dit is belangrik om nie hul gevoelens te minimaliseer nie, maar om te erken dat hul stres werklik is. Bied ondersteuning aan en laat hulle weet dat hulle nie alleen is nie.
Moedig ʼn gesonde leefstyl aan:
ʼn Gesonde dieet, genoeg slaap en gereelde oefening kan ʼn groot verskil maak in hoe jou kind stres hanteer. Stel voor dat hulle tyd maak vir ontspanning en aktiwiteite wat hulle geniet. Fisiese aktiwiteit en gesonde eetgewoontes kan stresvlakke verlaag en leer jou kind ook van jongs af om balans te vind.
Help hul om prioriteite te stel:
Studente voel dikwels oorweldig deur die druk om goed te presteer terwyl hulle ook probeer om hulle sosiale lewens en buitemuurse aktiwiteite te balanseer. Help jou kind om hul tyd beter te bestuur deur prioriteite te stel. Soms beteken dit dat hulle sekere aktiwiteite moet opoffer om meer gefokus te wees op wat werklik belangrik is.
Wat om te vermy
As ouer is dit soms moeilik om nie in ʼn rol as redder te verval nie. Dit is belangrik om te onthou dat jy jou kind moet lei eerder as om vir hulle besluite te neem. Vermy die versoeking om al hul probleme vir hulle op te los. Moedig onafhanklikheid aan en gee hulle die gereedskap om self stres te hanteer.
Wanneer om professionele hulp te soek
As jy sien dat jou kind se toestand nie verbeter nie, kan dit nodig wees om professionele hulp in te roep. ʼn Sielkundige of berader kan jou kind help om gesonde maniere te vind om stres te hanteer en om uitbranding te voorkom. Dit is belangrik om te erken wanneer die probleem buite jou as ouer se vermoë is en om die nodige hulp te soek.
Hoewel uitbranding ʼn ernstige saak is, is dit iets wat hanteer en voorkom kan word met die regte ondersteuning en hulpbronne. As ouer speel jy ʼn sleutelrol in die proses om jou kind te help om deur hierdie moeilike tyd te kom. Onthou, jou betrokkenheid en ondersteuning kan die verskil beteken tussen oorleef en floreer.
Deur bewus te wees van die tekens van uitbranding en proaktief in jou kind se lewe op te tree, kan jy help om hul geestelike en fisiese gesondheid te beskerm. Gee hulle die liefde en ondersteuning wat hulle nodig het om hierdie uitdagende tyd deur te kom.
Solidariteit stap die hele loopbaanpad saam met jou – selfs van skoolvlak af! Verskeie hulpbronne word gebied om jou kind te ondersteun en leiding te bied deur al die moeilike besluite wat hulle op skoolvlak moet neem. Hulle kan op Solidariteit toegang kry tot al hierdie bronne. Skep ʼn gratis profiel en raak deel van ʼn gemeenskap wat ondersteun en ontwikkel.