
Foto Krediet: Pixabay
Gekopieër
Ons moet met die VSA saamwerk
Wat is Agoa en hoekom is dit nou so ʼn brandpunt in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing? Suid-Afrika maak staat op die inkomste wat te danke aan hierdie ooreenkoms met die VSA gegenereer word. Wat is die impak daarvan as dit heroorweeg gaan word?
In die jaar 2000 is die African Growth and Opportunities Act (Agoa) deur die VSA se huis van verteenwoordigers en senaat aanvaar, waarna dit deur die destydse president, Bill Clinton, onderteken is. Die doel hiervan is om groei in Afrika te stimuleer deur vir ʼn lang lys produkte vrye toegang tot die Amerikaanse mark te bied.
In ruil daarvoor vra die VSA dat lande wat bevoordeel word, aan sekere vereistes moet voldoen. Menseregte is die grootste oorweging hier, met eiendomsreg wat ʼn baie groot deel daarvan uitmaak. As mense se reg op die private besit van eiendom nie gerespekteer word nie, is dit neusie verby vir Agoa. Dit is daarom noodsaaklik dat die regering van Suid-Afrika dit duidelik maak dat onteiening nie sal gebeur nie en dat hulle rasgebaseerde eiendomswette sal wysig of onttrek. Verder moet Suid-Afrika ophou om die VSA en sy bondgenote se belange op die internasionale front te benadeel.
Dit is veral nou belangrik dat Suid-Afrika sy verhouding met die VSA bewaar. Donald Trump se buitelandse beleid berus grotendeels daarop dat hy eise stel en dan invoertariewe instel as daar nie aan sy eise voldoen word nie. Dit maak Agoa nog meer noodsaaklik vir Suid-Afrika. As ons kan aanhou om tariefvrye uitvoere na die VSA te geniet terwyl tariewe op ander lande gehef word, gee dit ons ʼn enorme mededingende voordeel.
Die VSA is ook een van die mees gediversifiseerde uitvoermarkte vir Suid-Afrika. Anders as China, waarheen ons meestal grondstowwe en onverwerkte landbouprodukte uitvoer, voer ons na die VSA amper alles uit wat ons kan. Ons kan doodeenvoudig nie die grootste mark op aarde vervreem nie. Boonop het ons ʼn positiewe handelsbalans met die VSA.
Behalwe vir baie landbou- en mynbouprodukte is die VSA ook ʼn groot afsetpunt vir van ons meer komplekse bedrywe, soos die motorbedryf. Dit is een van ons bedrywe wat nie net uitstekende salarisse betaal nie, maar wat ook uiters kwesbaar vir tariewe is. Trump wil die motorbedryf na Amerika terugneem, dus hef hy juis graag tariewe op ingevoerde voertuie. As die voordele wat ons onder Agoa geniet sou wegval, sal hierdie bedryf moontlik in groot moeilikheid wees, en sal baie vervaardigers dit ernstig oorweeg om hul aanlegte na elders te verskuif.
In 2024 het meer as ʼn halfmiljoen mense in Suid-Afrika ten minste gedeeltelik op uitvoere na die VSA staatgemaak vir hul inkomste. Dit het 3,4% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk beloop.
As Trump sou besluit dat Suid-Afrika van die Agoa-voordele uitgesluit word en ʼn algemene tarief op ons uitvoere na die VSA plaas, kan dit rampspoedig wees vir die land. Dit is nie net groot bedrywe soos die motorbedryf wat hieruit voordeel trek nie, maar ook talle kleinskaalse vervaardigers op die platteland.