Afrikaans

English

loading
Artikels
1 maand gelede
onsbou-vir-n-vry-veilige-en-voorspoedige-toekoms

Foto Krediet: OkayDeer

#OnsBou vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms

Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om ons gemeenskap te beskerm. #JyHoortHier en daarom bou Solidariteit kennisinstellings om die volgende generasie te bemagtig en ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te verseker. Bou vir jou kinders; bou vir ʼn toekoms. Lees hier meer oor hoe jy sáám met Solidariteit kan bou.


Deur Kyla-Ann du Toit

Lees meer oor:

Solidariteit

Sol-Tech

Akademia

Bo-Karoo Opleiding

Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum


“As ons twyfel oor die toekoms, bou ons dit.” Dít is die woorde van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit – en dít is presies wat Solidariteit doen, want ons glo #JyHoortHier.

Die geskiedenis wys dat ʼn toekoms altyd moontlik is. Ons kan net soos ons voorouers, soos gewone mense in ongewone omstandighede, klein begin bou aan buitengewone wonderwerke. Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om ons gemeenskap in ʼn onsekere ekonomie te beskerm. “Ons brand en breek nie; ons bou en beskerm. Ons wag nie dat die regering ons probleme oplos nie; ons doen dit self,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Solidariteit

Ons het ʼn verantwoordelikheid om ʼn suksesvolle toekoms vir ons kinders te verseker en daarom is Solidariteit se Boufonds tot stand gebring. Die Boufonds maak dit vir Solidariteit moontlik om instellings te bou, maar veral kennisinstellings soos Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding (BKO) en Gimnasium Pretoria. Só kry jong mense die geleentheid om dié kennis te verwerf wat hulle benodig om as ʼn minderheidsgroep in ʼn meederheidsamelewing te kan floreer.

Danksy die Boufonds is dit vir verskeie instellings van die Solidariteit Beweging moontlik om hul bydrae tot die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap en veral jong mense te maak:

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn privaat beroepsopleidingkollege wat voortdurend uitbrei. “Die maatstaaf waarmee Sol-Tech se bouwerk gemeet word, is nie alleen groter studentegetalle of ʼn groter programaanbod nie, maar eerder uitnemendheid – om met uitnemendheid studente indiensneembaar te maak om só ʼn beter toekoms vir ons jong mense, en diegene wat ná hulle kom, te skep,” sê Chantal Swart, bemarkingsbestuurder van Sol-Tech.

In 2025 gaan Sol-Tech spesifiek daarop fokus om die kapasiteit wat in 2024 geskep is, ten volle te benut. Sol-Tech is besig met opwindende projekte, soos onder meer die finalisering en ingebruikneming van die Sol-Tech-brug oor die besige Solomon Mahlangu-rylaan en die toevoeging van ʼn betonvlak in ʼn werkswinkel om die kapasiteit vir die opleiding van meulmakers en megatroniese tegnici te verhoog.

Akademia

Akademia, ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, bou in 2025 voort op die momentum van die vorige jaar om sy klassieke vormingsideaal te versterk. Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, beklemtoon dié instelling se strewe na waarheid, goedheid en skoonheid deur akademiese uitnemendheid en diensbaarheid aan die gemeenskap. “Hierdie diensbaarheid spreek tot die instelling se aard en wese as verantwoordbare rentmeester met die oog op ʼn vrye toekoms,” sê Visser.

In 2024 is betekenisvolle vooruitgang gemaak met akademiese uitbreiding, die vestiging van nuwe studentelewetradisies en ʼn toename in personeel- en studentegetalle. Die jaar 2025 sluit die volgende hoogtepunte in: die bekendstelling van nuwe akademiese programme, die #Afrikaans100-veldtog, ʼn rekordgetal van meer as 500 studente wat vanjaar hul kwalifikasies sal verwerf en ongeveer 3 800 studente wat na verwagting vanjaar voltyds op kampus én nauurs via die afstandmodel aan Akademia gaan studeer.

Verdere ontwikkeling sluit in ʼn satellietkampus in die Wes-Kaap, ʼn versterkte alumni-netwerk en die Toekomsbouerveldtog se vordering met kapitaal- en infrastruktuurontwikkeling. Akademia se studentelewe floreer ook en ʼn rekordgetal eerstejaars het vanjaar se eerstejaarskamp bygewoon. Dié instelling se Christelike grondslag word verder uitgeleef deur kapeldienste en geloofsgesprekke, ʼn mentorskapprogram, die Groot Boeke-projek en ʼn groeiende personeelkorps wat daartoe bydra om van Akademia ʼn akademiese en kulturele tuiste vir Afrikaans te maak.

“Ons is opgewonde oor die moontlikhede wat in die nuwe jaar op ons wag en die Akademia-gemeenskap is oorgehaal om as ʼn toegewyde Afrikaanse studietuiste deur voortgesette uitnemendheid diensbaar aan die gemeenskap te wees,” sê Visser.

Bo-Karoo Opleiding

By Bo-Karoo Opleiding (BKO) is ʼn opleidingsinstelling in Orania wat veral fokus op die boubedryf en landbou-opleiding en waar jong mense gevorm word om die arbeidsmark as roepingsgedrewe volwassenes te betree – stewig gegrond in geloof en kultuur.

Bou, kweek en ontwikkel – dít is waarop BKO in 2025 gaan fokus. BKO gaan voortbou op hul konstruksie-opleiding deur die model binne die beroepskwalifikasieraamwerk aan te pas sodat studente teoretiese en praktiese vaardighede inoefen voordat hulle werkservaring opdoen. Daar word “gekweek” in ons Landbou-afdeling met ekstra personeel en die uitbreiding van die Leer-My-Hoe-proefplaas, terwyl hulle ook die studentelewe ontwikkel met ekstra verblyf, sport, kultuur en algemene ondersteuning.

Volgens Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, wil BKO hul studente beter toerus vir die werkplek, hul program-aanbod verdiep en hul studentelewe verbreed. “Ons wil nóg meer studente werf om ʼn groter impak op die samelewing én ons gemeenskap te maak,” sê Vogel.

Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut

By “By Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut bou ons aan drome – die droom van ʼn student om ʼn roeping uit te leef, die droom van ʼn bejaarde om met waardigheid versorg te word en die droom van ʼn gemeenskap waar ons met omgee en deernis na mekaar omsien.” Só sê Delmei Delport, bemarkingsbestuurder by die Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Hierdie opleidingsinstelling bou nie net aan vaardighede nie, maar ook aan ʼn gemeenskap en ʼn toekoms. Hulle lei tuisversorgers op om bejaardes, babas, kleuters en persone met gestremdhede met liefde en passie te versorg. “In 2025 gaan ons ons opleiding verder uitbrei om nóg meer mense die kans te bied om ʼn verskil te maak – nie net in hul eie lewe nie, maar ook in dié van die mees kwesbares,” sê Delport.

Volgens Delport ondervind Suid-Afrika ʼn dringende behoefte aan gekwalifiseerde tuisversorgers. “Te veel mense benodig sorg, maar te min is opgelei om dit met die nodige respek, waardigheid en kundigheid te bied. Daarom rus ons elke student toe met wêreldklas-opleiding en ʼn diepe besef van hul roeping en waarde,” sê sy.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum

By “By Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) werk om die toekoms van Christelike Afrikaanse onderwys te verseker deur reeds bestaande gehalte-onderrig in stand te hou én, waar nodig, nuut te bou.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê hulle wil graag in 2025 meer fokus op groter selfstandige skole deur ondersteuning en advies aan skole te bied. “Die hoofdoel vir hierdie jaar is om Afrikaanse skole se uitnemendheid te verbeter en só te help dat die Afrikaanse gemeenskap uitnemend bly,” sê hy.

Volgens Leon wil die SOS veral daarop fokus om ondersteuning en advies aan groter selfstandige skole te bied ná die instelling van die Bela-wet. Hulle is ook besig met ʼn akkreditasieprogram vir skole om die opvoedkundige waarde en uitnemendheid van Afrikaanse skole te verseker.

Solidariteit het die uitdagings in ons land raakgesien en besluit om iets positiefs daaraan te doen met jóú hulp. Daarom wil Solidariteit na die behoeftes van sy mense omsien deur kennisinstellings te bou en só die volgende generasie met kennis en vaardighede te bemagtig. Raak vandag nog betrokke en verseker ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir jou én jou nageslag.

Ons bou vir ons toekoms. Bou jy saam?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie