loading
Artikels
6 maande gelede
oudkolonel-ontvang-meer-as-n-halfmiljoen-rand-terug-na-sapd-geskil

Foto Krediet: Verskaf

Voormalige SAPD-lid ontvang halfmiljoen ná twis oor bevordering

Deur Heléne Leonard

Solidariteit het onlangs betekenisvolle oorwinnings behaal in die sake van oudkolonel FJ de Vis teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die sake het gevolg ná De Vis se bewering dat hy op ʼn onbillike wyse oor die hoof gesien is vir bevordering tot brigadier by die SAPD.

Volgens De Vis is hy nie ʼn behoorlike kans gegun om homself gedurende die aanstellingsproses te bewys nie en is hy daarom nie bevorder nie. Hy het verskeie wanpraktyke uitgewys wat die eerlikheid en van die proses om ʼn geskikte kandidaat te vind, in twyfel getrek het. Onder die regverdigheid beweerde ongerymdhede was dat sommige van die suksesvolle kandidate bevorder is sonder dat hul kwalifikasies by hul aansoeke aangeheg was; sonder dat volledig voltooide aansoekvorms ingedien is; en selfs dat ʼn lid van die onderhoudpaneel ʼn notule daarvan onderteken het, sonder om enigsins by die betrokke vergadering teenwoordig te wees.

Hierdie bewerings van onbillike arbeidspraktyksake het as grondslag van De Vis se eis gedien. 

Solidariteit duld nie onregverdige praktyke in die werkplek nie en het die sake namens De Vis hanteer. Die eerste saak is voor die bedingingsraad van die SAPD gebring, en ʼn tweede saak van De Vis en die SAPD se onbillike arbeidspraktyke is daarna ook suksesvol voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geargumenteer. 

Die uiteindelike afloop van hierdie sake was dat Solidariteit agt maande se salaris as vergoeding vir De Vis – wat intussen afgetree het – kon terugeis.

“Hierdie toekenning is ʼn duidelike erkenning van die onregverdigheid wat De Vis ervaar het, en dien as ʼn waarskuwing aan werkgewers om billike arbeidspraktyke te volg en regverdige prosesse vir al hulle werknemers met hulle indiensnemingsprosesse te verseker,” sê Ronel Stander, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit. 

Die oorwinning in De Vis se sake stuur ʼn kragtige boodskap aan werkgewers landswyd dat onregverdige arbeidspraktyke nie geduld sal word nie, en dat Solidariteit gereed staan om die regte van sy lede te beskerm. 

Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werkbeskerming in jou beroep te geniet.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel