
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit begin met lastersaak teen minister in die presidensie
Solidariteit het met ’n lastersaak teen die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, begin. Die tweede respondent in die saak is president Cyril Ramaphosa.
Die lastersaak volg nadat die minister tydens ’n mediakonferensie gesê het die kabinet neem met kommer kennis van voortgesette waninligtingsveldtogte deur Solidariteit en AfriForum. Sy het ook gesê dat wetstoepassingsagentskappe die verbreking van wette ondersoek.
Hierdie uitlatings is gemaak ná afloop van die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA nadat president Trump ’n uitvoerende bevel oor Suid-Afrika gepubliseer het.
Minister Ntshaveni en die regering het egter op geen tydstip enige bewyse van hierdie sogenaamde waninligting gelewer nie.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die waarheid egter dat die Solidariteit Beweging vir Suid-Afrika ingetree het juis nadat die regering ’n diplomatieke krisis met sy belangrikste handelsvennoot veroorsaak het.
“Die ANC se ideologiese stiksienigheid het Suid-Afrika in ’n krisis gedompel. Dit het niks met Solidariteit te doen gehad nie. Solidariteit se groot fokus tydens die VSA-toer was die behoud van die Agoa-handelsooreenkoms.
“Dit is óns lede en gewóne mense wat hulle werk gaan verloor. Ons het vir hulle ingetree. Ons dokumentasie het grootliks daarop gefokus, en al het dit moontlik ongemaklike waarhede oor die ANC blootgelê, was dit beslis nie onwaar nie,” sê Hermann.
Solidariteit vra nou dat die minister aan laster skuldig bevind word en dat sy skadevergoeding moet betaal. Solidariteit onderneem ook in sy hofstukke om die volle bedrag wat vir skadevergoeding betaal word, aan Solidariteit Helpende Hand te skenk om behoeftige mense te help.
Volgens Hermann is die hofsaak tussen Solidariteit en die minister in die presidensie een wat gaan oor ’n stryd om die waarheid. Solidariteit wil in die hofsaak stewig aan die kant van die waarheid gaan staan.
“Die diplomatieke krisis tussen Suid-Afrika en die VSA kan vierkantig en uitsluitlik voor die deur van die ANC gelê word. Om instellings soos Solidariteit en AfriForum van waninligting en selfs hoogverraad te beskuldig, is vals en lasterlik.
“Die minister in die presidensie moet van beter weet. Ons kan nie meer toelaat dat senior persone in die regering wegkom met vals stellings en laster nie. Hulle dink hulle kan sê en doen wat hulle wil sonder gevolge. Hulle wil die skuld verskuif.
“Hulle skep ’n vals meesterverhaal wat, indien dit genoeg herhaal word, mettertyd in mense se koppe die ‘waarheid’ word. Hulle kruip dan agter hierdie valsheid weg om hul aandeel in die diplomatieke krisis met die VSA te verbloem. Solidariteit het besluit om hof toe te gaan om hierdie vals meesterverhaal van waninligting te stuit,” sê Hermann.
Volgens Hermann veroorsaak die minister se versuim om bewyse van waninligting te lewer, dat haar stellings bloot stellings word wat in die lug hang.
Hy glo die enigste waninligting wat hier ter sprake is, is waninligting óór Solidariteit.
Sien die beëdigdeverklaring hier en kennisgewing van mosie hier.