loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
pontium-skynhof-akademia-bou-n-brug-tussen-leer-en-praktyk

Foto Krediet: Verskaf

Pontium-skynhof: Akademia bou ʼn brug tussen leer en praktyk

Deur Leré Nel

Op 18 Oktober 2025 het regskennis en regtewêreld-ervaring mekaar in die hof ontmoet – by Akademia se Pontium-skynhoffinaal. Die Solidariteit Regsnetwerk was vanjaar die trotse hoofborg van dié besondere geleentheid wat regstudente help om hul teoretiese kennis in die praktyk te toets en selfvertroue in die hof op te bou.

Volgens Zabeth Breytenbach, SR-lid van verenigings by Akademia, is Pontium se eerste skynhof in 2024 aanlyn aangebied, maar vanjaar se finaal was die eerste wat in persoon plaasgevind het, op Akademia se Leriba-kampus.

“Die doel van skynhowe is om regstudente se kennis op ʼn praktiese wyse te toets,” sê Breytenbach. “Alhoewel hulle uitblink in teoretiese begrip was daar ʼn behoefte om dit in ʼn gesimuleerde hofomgewing te toets.”

Hoe werk die kompetisie?

Alle Akademia-studente wat voltyds of nauurs LLB of BCom (Ekonomie en Regte) studeer, kon aan die kompetisie deelneem. Ná hul inskrywings ingedien is, is deelnemers se eerste feitestel uitgereik, waarna hulle twee weke gegun is om hul betooghoofde voor te berei. Daarna is die eerste ronde van verhore gehou, waarna die regters besluit het wie na die volgende ronde deurdring op grond van die betooghoofde en die verhoor. Met elke ronde het deelnemers ʼn nuwe feitestel ontvang wat oor ʼn ander regsgebied handel.

In totaal was daar drie rondes: die eerste het gefokus op familiereg, die tweede op erfreg, en die finale ronde oor kontraktereg. Volgens Breytenbach het die kernvraag vir die finaal oor huurreg gehandel: “Kan ʼn uitsetting sonder ʼn hofbevel regmatig wees nadat ʼn huurkontrak weens agterstallige betalings gekanselleer is?”

Die finale ronde

In die finaal het Waldo Dreyer en Anestasha Titan vir die applikant opgetree, en Marco Welgemoed en Neil Gericke vir die respondent. Elke spreker het tien minute gehad om hul saak te stel, gevolg deur vrae van die regters. Daarna het een spreker vir die applikant vyf minute vir repliek gekry. Ná afloop van die verhoor het die regters oor die uitspraak beraadslaag.

Daar was in totaal 16 deelnemers (8 spanne), en die indrukwekkende beoordelaarspaneel (die regters) het bestaan uit mevv. Sarita Gerber, Natasha Venter, M. Roestoff, dr. Alex Politis, adv. Jaco Roux SC, en adv. Morné Basson SC.

Neil Gericke en Marco Welgemoed is uiteindelik as die wenners aangewys en het ook die prys vir die beste navorsing ontvang. Neil het boonop die toekenning vir “Beste spreker van die dag” ingepalm.

Breytenbach sê die samesyn tussen studente en personeel wat ná die verhoor saam gekuier het was baie spesiaal. “Elke student wat deelgeneem het kon hul netwerk bou en het die geleentheid gekry om buite die klaskamer met hul dosente te gesels en vrae te vra. Dit bevorder die gemeenskapsgevoel hier by Akademia.”

Deelnemers het die ervaring as uiters waardevol beskryf. “Studente het gevoel dat hul argumentatiewe vaardighede en kritiese denke uitgedaag en verbeter is,” sê Breytenbach. “Daarbenewens het hulle hul vermoë om regsbronne te lees, te ontleed en toe te pas, asook hul skryf- en litigasievaardighede, verder ontwikkel.”

Die waarde van samewerking

Breytenbach het haar dank teenoor die Regsnetwerk uitgespreek vir die beduidende hupstoot wat hulle gebied het. “Die Solidariteit Regsnetwerk het ʼn atmosfeer van hoop geskep vir die deelnemers, die regbank en die gehoor. Die dag sou nie moontlik gewees het sonder Solidariteit nie. Ons is dankbaar vir Solidariteit se ondersteuning. Die Regsnetwerk het gehelp om Pontium se missie om menslike brûe te bou ʼn werklikheid te maak.”

Émil Glas, organiseerder van die Regsnetwerk, sê die netwerk is trots om by só ʼn inisiatief betrokke te wees:

“Die studente en die Pontium-raad het inisiatief geneem om hulself te bemagtig en praktykgereed te kry. Sulke praktiese toepassing van die reg gee studente lekker hofervaring en bou hul selfvertroue. Welgedaan aan Pontium vir die inisiatief – as hoofborg ondersteun die Solidariteit Regsnetwerk julle ten volle.”

ʼn Belegging in die toekoms van die beroep

Vir Solidariteit se Regsnetwerk is betrokkenheid by opleidings- en leergeleenthede soos hierdie skynhofkompetisie ʼn belegging in die toekoms van die regsberoep. Deur jong regstudente te ondersteun op hul pad na professionele volwassenheid, bou die Regsnetwerk saam aan ʼn sterker regsberoep en goed opgeleide regslui.

Hou hierdie platform dop vir opdaterings oor al die geleenthede waarby die Regsnetwerk betrokke is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie