loading
Artikels
5 maande gelede
roeping-vs-beroep

Foto Krediet: OkayDeer

Roeping vs. beroep

“Jou roeping en jou beroep moet met mekaar gesels. Jou roeping en jou beroep is verweef.” – Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Hierdie woorde van Hannes Noëth som die balans tussen roeping en beroep pragtig op. Vir kantoorpraktisyns – die stil maar onmisbare ratte in enige onderneming – is hierdie balans nie net ʼn konsep nie, maar ʼn werklikheid wat hulle daagliks ervaar.

Wat is die verskil tussen roeping en beroep?

Om ʼn beroep te hê, beteken jy het ʼn werk wat ʼn inkomste genereer. Dit is noodsaaklik vir oorlewing en bied dikwels stabiliteit. ʼn Beroep alleen is egter dikwels nie genoeg om ʼn dieper vervulling te bring nie. Sonder roeping kan dit swaar en uitputtend voel, en volgens Noëth kan dit lei tot geestelike moegheid.

Roeping, aan die ander kant, is die oortuiging dat jou werk deel uitmaak van ʼn groter doel – een wat jou passie en talente gebruik om ander te dien. Dit is geestelik gedryf en maak jou bewus van die verskil wat jy in die wêreld maak. Wanneer jou beroep en jou roeping egter saamwerk, gebeur iets besonders: jy ervaar vervulling, selfs in uitdagende tye.

Kantoorpraktisyns is die hartklop van enige onderneming

Kantoorpraktisyns is veel meer as administratiewe beamptes. Hulle is die skakels wat mense bystaan, struktuur skep en Solidariteit se visies en waardes bewaarheid. Hulle werk dikwels agter die skerms, maar hulle maak ʼn diepgaande impak.

Met ʼn duidelike roeping maak hulle nie net ʼn verskil binne die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk nie, maar dra ook by tot die bou van ʼn gemeenskap. Deur hul gawes in te span om ander te ondersteun, weerspieël hulle presies wat Noëth beskryf: “Beroep met roeping gebruik jou gawes tot diens, maak ʼn verskil en bou ʼn gemeenskap.”

Wanneer kantoorpraktisyns hul werk as ʼn roeping beskou, bring dit ʼn dieper dimensie in hul werk. Die uitdagings is daar – soos in enige beroep – maar hulle vind vrede in die wete dat hulle deel is van iets groter as hulself.

Omgekeerd kan die afwesigheid van roeping kantoorpraktisyns geestelik uitput. Sonder daardie oortuiging van ʼn hoër doel, word selfs die mees basiese take ʼn las eerder as ʼn bydrae.

ʼn Geïntegreerde lewe

Die ideaal is dat jou beroep jou roeping weerspieël. Hoe gelukkig en geseënd is diegene wie se werk nie net ʼn inkomste genereer nie, maar ook geestelike betekenis gee. By Solidariteit vorm kantoorpraktisyns deel van ʼn netwerk waar roeping hoog geag word. Dit is deur hul toewyding en die besef van hul belangrike rol dat Solidariteit se visie van hoop en selfstandigheid moontlik gemaak word.

In die woorde van Noëth: “Wanneer jy jou beroep as ‘n roeping uitleef, word jy aan eise blootgestel, maar ervaar jy ook hartsvervulling.” Mag elke kantoorpraktisyn ontdek dat hul beroep en roeping mekaar aanvul in ʼn lewenslange gesprek wat gemeenskappe bou en betekenis bring.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie