loading
Artikels
8 maande gelede
sol-tech-buig-die-boompie-terwyl-hy-nog-jonk-is

Foto Krediet: Solidariteit

Sol-Tech buig die boompie terwyl hy nog jonk is!

Deur Ané Janse van Rensburg

Sol-Tech spog reeds vanjaar met ʼn reeks uitbreidings en ontwikkelinge in sy aanbod. By die bekenstellingsgeleentheid van sy splinternuwe Vroeëkinderjare-ontwikkelingsprogram (VKO-program), vier ons nog ʼn mylpaal by Sol-Tech!

Vroeëkinderjare-ontwikkeling is ʼn kritieke fase in ʼn kind se lewe wat ʼn diepgaande uitwerking het op hul toekomstige welstand en sukses. Hierdie stadium, wat oor die eerste paar jaar van ’n kind se lewe strek, is van die uiterste belang vir hul kognitiewe, emosionele en sosiale ontwikkeling. Die belangrikheid van VKO kan nie genoeg beklemtoon word nie, en dit vereis aansienlike aandag en ondersteuning van ouers, opvoeders, en die samelewing in die geheel.

Een van die sleutelaspekte tydens VKO is die ontwikkeling van die brein. Gedurende hierdie vroeë jare vind ʼn ongelooflike neurale groei en verbinding plaas, wat die fondament vorm vir alle toekomstige leer en ontwikkeling. Stimulerende omgewings en interaksies in hierdie tydperk dra by tot die bevordering van hierdie neurale groei, wat op sy beurt die kind se leervermoëns en probleemoplossingsvaardighede verbeter.

Teen die einde van Junie 2024 verwelkom Sol-Tech reeds sy eerste inname studente om met die program in Vroeëkinderjare-ontwikkeling (VKO-program) weg te spring. Dié kwalifikasie (op NKR-vlak 4) sal volgens ʼn gemengde model aangebied word waar studente deur die omgekeerde klaskamermetode tuisstudie doen en kontaksessies in die middae op Sol-Tech se kampus moet bywoon. Werkplekgeïntegreerde leer vorm ʼn belangrike komponent van die program.

Dié nuutste toevoeging tot Sol-Tech se aanbod is spesifiek gemik op skoolverlaters wat by ’n preprimêre skool wil werk; individue wat reeds by ʼn kleuterskool werk maar ʼn formele kwalifikasie wil verwerf kry; au pairs; kinderoppassers; dagmoeders en tuisskoolmammas wat met nul- tot vyfjarige kinders werk. Die intreevlakkwalifikasie rus studente toe om met babas, peuters en kleuters van nul tot vyf jaar te werk. Voornemende studente kan vanaf 7 Mei 2024 aansoek doen om die kursus te volg.

Tydens die bekendstellingsgeleentheid van hierdie program het Lynette Beer, lewensafrigter was spesialiseer in persoonlikheidstipes en verskillende temperamente, gesels met verskeie kleuterskoolhoofde van reg oor Pretoria oor die belangrikheid van VKO, kinders se temperamente en hoe voornemende studente sal moet leer om met verskillende temperamente te kan werk. Beer sê: “Jy moet weet as jy daardie kind leer en ontwikkel hoe hulle die beste leer wat by hulle temperament pas.”

Sol-Tech se besturende direkteur Paul van Deventer het by die geleentheid gesê: “Sol-Tech is reg om goed opgeleide vroeëkinderjare-ontwikkelingspraktisyns op te lei om so seker te maak dat kleintjies eendag hul volle potensiaal kan bereik om uiteindelik ekonomies aktiewe volwassenes te word wat ʼn positiewe invloed op die volgende generasie het. Ter wille van ons kinders se kinders is ons reg om die boublokke vir ʼn goeie toekoms ook op so ʼn wyse neer te lê.” Sol-Tech glo aan die rol van opleiding, van kleintyd tot jy eendag jou besigheid se deure open. Só gaan hierdie nuwe opleidingsprogram kinderopvoeders leer hoe om die spreekwoordelike jong boompies reg te buig sodat hulle mag groei in dinamiese, welvarende individue.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie