loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-se-slag-teen-die-anc-se-mag

Fotokrediet: Okay Deer

Solidariteit se slag teen die ANC se mag

Pieter Jordaan

Waarom volhard die ANC en sy meelopers so getrou met sy reeks raswette, selfs wanneer dit sulke verwoesting in die land saai?

Dié eenvoudige vraag het ʼn eenvoudige antwoord: Mag.

Slegs wanneer ons dié eenvoudige doelwit verstaan, kan gewone Suid-Afrikaners begryp waarom daar met dreigemente geveg word om met rassistiese beleid te kan voortgaan – hetsy in die staat, die werkplek, of waar dit ook al sy doel dien.

Al kos hierdie beleide die land jaarliks miljarde en al is dit duidelik dat dit nie die meerderheid Suid-Afrikaners uit armoede ophef nie, moet ons met hierdie transformasieprojek volhard, en klaar.

Rasbeleid gaan natuurlik lankal nie meer net oor regstelling nie. Dit gaan oor mag, beheer en politieke oorlewing.

Raswette het vir die ANC ʼn instrument geword waarmee hy kan bepaal wie ekonomiese geleenthede kry, wie staatskontrakte ontvang en wie toegang tot die ekonomie het. Vir lank het wêreldleiers hom daarvoor vergewe, en is hy selfs gesteun en lof toegeswaai.

Dit selfs al het hy sodoende ʼn stelsel geskep waarin politieke verbintenisse en ras dikwels veel swaarder weeg as bekwaamheid, mededingendheid en waarde vir geld.

Die groot ironie is dat gewone swart Suid-Afrikaners, namens wie hierdie beleid kwansuis toegepas word, gereeld sélf die grootste verloorders is.

Wanneer ʼn tender op grond van ras eerder as meriete toegeken word, is dit die arm gemeenskap wat met ʼn onvoltooide pad, ʼn gebrekkige skool of ʼn hospitaal sonder behoorlike dienste moet saamleef.

Die ANC praat graag van bemagtiging, maar sy beleid bevoordeel konsekwent daardie klein, bevoorregte elite, terwyl miljoene swart Suid-Afrikaners in armoede vasgevang bly.

Dit verklaar waarom die regering so verbete aan hierdie beleide vasklou. Dit verduidelik waarom hy aanhou sê dat dit slegs weens swak implementering is dat beleide soos swart ekonomiese bemagtiging nié swart armoede verlig het nie.

Ja, swaer. Dis nog net ʼn handjievol naïewe en “woke” randfigure wat glo dat hierdie ras-regime steeds ʼn soort morele regstellingsideaal dien.

En om nou van hierdie rasreëls afstand te doen, sou beteken om afstand te doen van ʼn belangrike instrument van politieke en ekonomiese beheer.

Maar die regering is nie onaantasbaar nie. Dit is nog iets wat nou vir ons baie duidelik word.

Solidariteit se jongste oorwinning in die Konstitusionele Hof oor die Wet op Openbare Verkryging bewys weer dat daar tog doeltreffende grondwetlike kanale bestaan om die regering se rassebedeling teen te staan.

Die hof het bevind dat die Wet onregmatig tot stand gebring is, met die gevolg dat die betrokke nuwe uitsluitingsvereistes nie in werking kan tree nie.

Dit is ʼn belangrike oorwinning, maar ook ʼn herinnering dat die regering se mag ondergeskik aan die Grondwet bly.

Ons moet aanhou om hierdie kanale met mening te benut.

Die stryd teen raswette is dus nie ʼn stryd teen swart Suid-Afrikaners nie. Dit is ʼn stryd vir ʼn land waarin elke Suid-Afrikaner hopelik op grond van hul vermoëns kan presteer en waarin belastinggeld aangewend word om dienste te lewer, eerder as om ʼn politieke ideologie af te dwing.

Dit klink so eenvoudig, maar dit verg groot teenstand, soos dié wat Solidariteit bereid is om te bied.

Ons móét, want die ANC het rasbeleid in ʼn magsinstrument omskep. Nou sien ons die regering se rassekaartehuis is nie onaantasbaar nie.

Met elke suksesvolle hofuitdaging word nog ʼn kaart daaruit getrek. Dit beklemtoon ook die belangrikheid van Solidariteit se regsfonds, wat ons hande sterk maak om tot hierdie geveg toe te tree.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel