
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit stuur aanmaning aan Eskom oor program wat wit jeug uitsluit
Solidariteit het vandag met ’n sterk bewoorde aanmaning kapsie gemaak teen Eskom se growwe toepassing van rasvereistes in ’n werkskeppingsprogram vir die jeug.
In ’n skrywe aan Eskom sê Solidariteit hy verneem nagenoeg 190 poste is onder die vaandel van die regering se sogenaamde YES-program slegs vir swart werknemers gereserveer.
Solidariteit voer aan hierdie praktyke is onwettig gemeet aan verskeie plaaslike wette sowel as internasionale konvensies oor rassediskrimasie.
Volgens Annika Labuschagné, litigant by Solidariteit se Regsafdeling, is dit boonop irrasioneel as ʼn mens in ag neem dat Eskom se werkgewer – die regering – in werklikheid ’n streep deur dié tipe optrede getrek het toe hy vir ’n meer genuanseerde regstellendeaksiebestel met Solidariteit geskik het.
Hierdie ooreenkoms is in Junie 2023 bereik.
“Hierdie kwotastelsels is nie net verregaande nie; dit is nou ook onwettig. Aan die een kant beweeg ons land in die rigting van insluiting waar ons aan ’n beter toekoms bou, terwyl ons aan die ander kant met regeringsorganisasies soos Eskom sit wat met dié soort programme júís deur ’n rasbril na die toekoms kyk.
“Dat hierdie rasseversperrings op ons land se jeug toegepas word, maak dit natuurlik selfs erger, en indien Eskom nie daarvan afsien nie, sal Solidariteit met geen ander keuse gelaat word as om in te tree nie,” sê Labuschagné.
In hierdie aanmaning eis Solidariteit dat die poste vir enige aansoeker beskikbaar gestel word, en sê dat hy sal voortgaan met hofaksie indien daar nie aan hierdie eis gehoor gegee word nie.
“Ons glo die onlangse verkiesing het dit óók duidelik gemaak dat die deursnit Suid-Afrikaner nie meer tevrede is met hierdie soort praktyk wat mense slegs op grond van hulle ras uitsluit nie. Eskom besef dit duidelik nog nie, en daarom moet organisasies soos ons hulle daaraan herinner,” sê Labuschagné.
Lees Solidariteit se skrywe aan Eskom hier.