loading
avatar
Mediaverklarings
2 dae gelede
solidariteit-verwelkom-hofbevel-oor-rooiseelkrisis

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit verwelkom hofbevel oor rooiseëlkrisis

Solidariteit verwelkom die arbeidshof se bevel na ‘n dringende aansoek oor die onaanvaarbare vertragings met die uitreiking van rooiseëlsertifikate aan gekwalifiseerde ambagslui deur Solidariteit gebring is. 

Volgens die hofbevel het Solidariteit die mandaat ontvang om onmiddellik ‘n oorsigtelike rol te begin speel waarvolgens al die respondente tot verantwoording geroep word om die groot hoeveelheid sistemiese probleme uit te stryk.

Die eerste van ‘n reeks vergaderings tussen alle rolspelers, wat deur Solidariteit geköordineer word, moet volgens die bevel voor 30 September 2026 gebeur.

Dit volg nadat Solidariteit die hof genader het omdat talle gekwalifiseerde ambagslui, wat reeds hul vaktoetse suksesvol voltooi het, maande lank op hul sertifikate moes wag.

Die saak is teen altesaam 21 respondente gebring, onder wie die minister van hoër onderwys en opleiding, die Nasionale Ambagmodereringsliggaam (NAMB), die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) en verskeie sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (SETA’s). 

Volgens Stef Pretorius, koördineerder van die Solidariteit Ambagnetwerk, is die bevel ʼn belangrike stap om die regte van gekwalifiseerde ambagslui te beskerm en die staat tot verantwoording te roep.

“Solidariteit verwelkom die bevel. Ons lede het alles gedoen wat van hulle verwag word: Hulle het hul opleiding voltooi en hul vaktoetse geslaag. Hulle behoort nie hul loopbane op ys te plaas weens administratiewe versuim aan die staat se kant nie,” sê Pretorius.

Solidariteit se hofaansoek het ten doel gehad om die betrokke staatsinstellings te dwing om uitstaande rooiseëlsertifikate te finaliseer en uit te reik, asook om die breër sistemiese probleme in die sertifiseringsproses aan te spreek.

Die vakbond het aangevoer die probleem bestaan nie uit geïsoleerde gevalle nie, maar dui op ʼn sistemiese krisis wat ambagslui landwyd benadeel. 

“Hierdie saak het nooit bloot oor ʼn stuk papier gegaan nie. ʼn Rooiseëlsertifikaat is vir ʼn ambagsman die sleutel tot indiensneming, bevordering en ʼn beter inkomste. Elke onnodige vertraging hou werklike gevolge vir mense en hul gesinne in,” sê Pretorius.

Volgens Solidariteit bevestig die bevel ook die waarde van daadwerklike optrede wanneer die wanfunksionering van die staat mense se loopbane en bestaansmiddele bedreig.

“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika voortdurend oor ʼn tekort aan tegniese vaardighede kla, terwyl gekwalifiseerde ambagslui terselfdertyd verhinder word om hul volledige plek in die arbeidsmark in te neem bloot omdat die staat nie sy administratiewe pligte behoorlik uitvoer nie,” sê Pretorius.

Solidariteit sal voortgaan om die uitvoering van die bevel en die sertifiseringsproses noukeurig dop te hou.

“Die uiteindelike doel bly om te verseker dat gekwalifiseerde ambagslui nie weer maande lank in onsekerheid gelaat word nadat hulle reeds aan al die vereistes voldoen het nie.

“Hierdie bevel is ʼn belangrike stap om geregtigheid vir ons lede te verseker en groter verantwoordbaarheid in die rooiseëlsertifiseringsproses af te dwing,” sluit Pretorius af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel