Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit waarsku teen verdere verliese ná produksiestaking by Transalloys
Solidariteit neem met groot kommer kennis van Transalloys se aankondiging oor die staking van produksie by sy mangaansmelter ná jare van aanhoudende finansiële verliese, terwyl onderhandelinge oor elektrisiteitstariewe met Eskom en die regering voortduur. Indien daar nie teen 31 Julie ʼn volhoubare oplossing gevind word nie, kan die smelter permanent sluit.
Die gevolg is honderde direkte werksgeleenthede in Witbank wat in gedrang geplaas word, asook duisende bestaansmiddele in die waardeketting wat daaronder ly.
Volgens Cornelius van Leeuwen, sektorkoördineerder van Solidariteit, is die aankondiging ʼn ernstige terugslag vir ʼn nywerheid wat reeds jare lank onder geweldige druk verkeer.
“Ons het onlangs gesien oplossings is wel moontlik toe verbeterde elektrisiteitstariewe ondernemings soos Samancor en Glencore-Merafe in staat gestel het om hul afleggingsprosesse te staak. Daardie ooreenkoms behoort as ʼn model vir die res van die smelterbedryf te dien. Transalloys se situasie is daarom besonder kommerwekkend, omdat soortgelyke sekerheid nog nie vir die oorblywende smelters bereik is nie,” sê Van Leeuwen.
Solidariteit sal die situasie noukeurig monitor en ondersoek instel na moontlike verdere betrokkenheid, insluitend gesprekke met die regering en ander rolspelers om te help voorkom dat die oorblywende smelters dieselfde pad volg as soveel ander nywerheidsaanlegte in Suid-Afrika.
“Elke smelter wat sy deure sluit, beteken nie net werkverliese nie, maar ook die verlies van kritieke vaardighede, ekonomiese aktiwiteit en Suid-Afrika se vermoë om waarde tot sy eie minerale hulpbronne toe te voeg. Ons hoop ʼn volhoubare oplossing word spoedig gevind voordat hierdie situasie onomkeerbaar raak,” sluit Van Leeuwen af.