loading
Artikels
8 maande gelede
solidariteit-wen-saak-oor-geld-vir-studie-namens-sapd-lid

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit wen saak oor geld vir studie namens SAPD-lid

Geregtigheid het geskied vir ʼn lid van Solidariteit wie salaris wederregtelik deur haar werkgewer verminder is ná sy suksesvol om ʼn kontantbonus aansoek gedoen het.  

Brigadier D.C. Mqoni het op grond van ʼn kontantbonusstruktuur in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), waarmee personeel aangemoedig word om verdere kwalifikasies te verwerf, vir ʼn kontantuitbetaling aansoek gedoen. Dit was nadat sy ʼn nagraadse diploma in openbare administrasie verwerf het.

Haar aansoek is goedgekeur en sy het ʼn bedrag van ongeveer R17 600 daarvoor ontvang, aangesien sy reeds die diploma voltooi het.

Gedurende Maart 2024, amper vyf jaar nadat hierdie bonus aan haar uitbetaal is, is brigadier Mqoni en ander amptenare deur die SAPD in kennis gestel van die voorneme om die bonusbedrae terug te vat. Dit was omdat dié bedrae glo nie senior personeel toegekom het nie.

Ondanks vertoë het die SAPD gedurende Junie 2024 begin om hierdie bonusse van die amptenare se salarisse te verhaal.

Volgens Theunis van Staden, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit, was hierdie aftrekkings van die lid se salaris onbillik omdat sy in goeie trou vir die bonus aansoek gedoen het met die veronderstelling dat die SAPD die vergoeding ingevolge die bepalings van die bonusstruktuur aan haar sou betaal.

“Die SAPD het geweier om enige verduideliking te aanvaar en het eenvoudig aangehou met die aftrekkings. Solidariteit het die arbeidshof namens die lid genader en ʼn dringende aansoek gebring om hierdie aftrekkings dadelik om te keer,” sê Van Staden.

Volgens die uitspraak het die SAPD buite sy magte opgetree, en daar is bepaal dat die gelde wat reeds verhaal is, aan brig. Mqoni terugbetaal moet word en dat enige verdere aftrekkings onmiddellik gestaak moet word. Om jare later die vergoeding af te trek, was onredelik en het op ʼn onbillike arbeidspraktyk neergekom.

Die oorwinning in hierdie saak behoort ʼn sterk boodskap uit te stuur, nie net aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie, maar aan alle werkgewers, om met billikheid teenoor die werknemer op te tree.

Solidariteit staan gereed om die regte van sy lede te beskerm waar enige situasie van hierdie aard ook al mag ontstaan. Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werkbeskerming en redelike praktyke in jou werkplek te geniet.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Geen soortgelyke artikels gevind nie