Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Student tot Meester is jou kans om by die beste te leer
Deur Ané Janse van Rensburg
Droom jy daarvan om in jou loopbaan uit te blink? Solidariteit se jaarlikse Student tot Meester-netwerkgeleentheid bied jou die geleentheid om direk by topkenners in verskeie beroepe te leer en jou pad na sukses te verseker.
Hierdie unieke gebeurtenis bring studente en ervare kenners bymekaar en gee vir jou die geleentheid om vrae te vra, advies te kry en waardevolle verhoudings te bou wat jou loopbaan ʼn hupstoot sal gee!
Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, sê ʼn mens kan nie ʼn prys aan sulke geleenthede vir studente heg nie. “Dit is ongelooflik dat kenners van verskillende beroepe bereid is om hulle tyd op te offer om vir hierdie jong mense die rigtingaanwysers op die pad na hulle toekomstige loopbane te wees! Ek is opgewonde om te sien wat hierdie jong mense nog gaan vermag – hou hierdie spasie dop!”
Hoekom is hierdie netwerkgeleentheid vir jou as student belangrik?
As student is daar baie uitdagings wat jy in die gesig moet staar wanneer jy die beroepswêreld betree. Dit kan oorweldigend wees om te besluit watter rigting jy moet inslaan of hoe om jou eerste groot deurbraak in jou loopbaan te maak. By die Student tot Meester-netwerkgeleentheid kry jy die geleentheid om hierdie vrae aan mense te vra wat reeds daardie uitdagings oorkom het. Hierdie mentors het jare se ervaring en kennis wat hulle direk met jou kan deel – en dit gee jou ʼn voorsprong.
Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, sê studente is beslis bevoorreg om hierdie tipe blootstelling te kan kry. “Toe ek met my loopbaan begin het, sou ek alles gee om met kenners van die bedryf te skakel. Daarom wil ek jong mense aanmoedig om sonder enige vrees vrae te vra. Jy verbreed nie net jou eie kennis daarmee nie, maar jy respekteer ook iemand wat daardie kennis oordra. Dis só ʼn goeie geleentheid om netwerke te bou.”
Wat kan jy verwag?
Die Student tot Meester-geleentheid is allesbehalwe ‘n gewone inligtingsessie. Hier gesels jy direk met meesters in jou beroepsveld. Jy kan hulle vra oor hul persoonlike ervarings, uitdagings wat hulle oorkom het en watter stappe hulle geneem het om sukses te behaal. Dit is jou kans om vrae te vra wat jou werklik kan help om beter te verstaan wat dit verg om in jou beroep uit te blink.
Studente maak waardevolle netwerkverbindings by sulke geleenthede, wat selfs tot toekomstige werksgeleenthede of mentorskap kan lei wat jou in jou loopbaan kan lei.
Hoe baat jy hierby?
Hierdie geleentheid gee jou toegang tot kennis wat jy nie sommer in handboeke sal vind nie. Dit help jou om realistiese verwagtinge vir jou loopbaan te stel en om strategieë te leer wat jou sal help om jou doelwitte te bereik. Meesters kan jou wys hoe om struikelblokke te oorkom wat jou die geleentheid gee om uit hul foute te leer sodat jy dit nie self hoef te maak nie.
“Aan die studente wat hier is: Slurp die kennis op en ontvang die wyshede wat graag met julle gedeel word. Julle moet kennis van ʼn vorige geslag ontvang. Dit is hoe julle met mekaar verbind is– anders ontneem jy jouself van iets groter. Solidariteit glo aan ʼn ketting wat geslagte met mekaar verbind,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in sy toespraak gesê.
Die Student tot Meester-geleentheid is ʼn gulde geleentheid wat jy nie moet om misloop nie. Dit bied nie net waardevolle kennis en insig nie, maar gee jou ook die geleentheid om met die regte mense te skakel en jou toekoms te begin bou.
Skep jou gratis Solidariteit-profiel en skakel vandag nog by die Studentelewe-groep in. Jou toekoms begin vandag!